PRINS ALBERT NUUS - Derek Hendriks skrik nie vir uitdagings nie en aan kortpaaie glo hy nie - aan vasbyt wel. Dit was die pad wat hy gestap het om sy tweede boek, tyd vir lééf: rubrieke en gedigte oor die lewe, die lig te laat sien.
Dit volg ná sy vorige boek met essays en gedigte, oppe en affe, wat in 2020 gepubliseer is. "Dis 'n droom wat waar is, om nou 'n tweede boek op die rak te hê," sê hy.
"Woorde en note was nog altyd my groot liefdes en belangstellings. Dis waarom ek jare gelede uit my werk in die gevangeniswese bedank het en my drome aktief begin navolg het. Ek is 'n gebore en getoë Prins Alberter, dis die omgewing wat my skryf- en musiektalent aangewakker het en my steeds inspireer."
Sy ma, Annie, het hom vanaf die ouderdom van vyf leer kitaar speel en deur die jare het musiek sy passie geword.
Hy het sy eie band, Slam Jam, gestig en is steeds die groep se hoofsanger, veelsydigste instrumentalis en voorste liedjieskrywer. Dit was in 2015 dat hy, benewens lirieke, ook gedigte en rubrieke begin skryf het.
"Ek het besef my skryfwerk het 'n positiewe invloed op ander mense. Nou verskyn my rubrieke gereeld in koerante en tydskrifte soos Kuier, waaroor ek dankbaar is."
Die Prins Albert-leesfees en Montagu-boekefees het hom al vir sy gedigte bekroon en hy het 'n ATKV-liriekkursus voltooi, waar hy aangewys is as een van die toptien van sy groep. Van sy gedigte is ook al aanvaar in die nasionale Avbob-poësiekompetisie.
Die benadering van die rubrieke in tyd vir lééf is om dit wat die lewe hom al prakties geleer het, met ander te deel. "Ek leef met 'n positiewe ingesteldheid.
Ek is 'n fyn waarnemer van mense, hul leefwyse en hoe hulle probleme ten spyte van omstandighede oorkom. Ek glo ook die Vader het vir elkeen van ons 'n gawe en talent gegee om uit te leef. Skryfwerk is vir my terapie, voedsel vir my verstand."
Derek vertel hy weet genoeg van mislukking, oorwinning, val en opstaan, en oor wat jy moet doen met die pyn en ongeluk wat soms onverwags op jou pad kom.
Van die onderwerpe waarop hy antwoorde in tyd vir lééf soek, is: Hoe hanteer ek my medemens? Hoe tree ek op as ek verontreg voel? Wat is eiewaarde en medemenslikheid? Mag ek soms kwaad word? Is 'n gemaksone die veiligste … of moet ek soms daaruit breek? Hoe maak ek met vrees en angs?
Sy grootste ondersteuners is sy ma en sy vrou, Mariana, sy vriend en oudkollega Chris Carolissen en sy kinders, Due-maine, Duollynne, Du-ane en Shannon.
Vir meer inligting oor die boek kontak 084 861 6072.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'