Update
PRINS ALBERT NUUS - Prins Albert se bestuurder van korporatiewe- en gemeenskapsdienste, Anneleen Vorster, sê sy volstaan by haar stelling dat die dorp nie meer in ‘n waterkrisis is nie.
Die Oudtshoorn Courant het op 5 Februarie aanlyn berig dat Vorster gesê het: “Die owerheid het met uitstekende bestuur en die samewerking van die gemeenskap, om hul waterverbruik te beperk, verseker dat die dorp nie meer in 'n krisis situasie is nie, maar steeds verantwoordelike verbruik moet bly toepas.
"Die watersituasie elders in die owerheid se regsgebied, insluitende Leeu Gamka, Prince Albert-weg en Klaarstroom is binne beheer met geen onvoorsiene probleme nie.”
Ander mediagroepe het berig dat die dorp se watersituasie kritiek is en na ‘n e-pos verwys wat deur die Prins Albert-toerismeburo aanlyn geplaas het om te waarsku dat die situasie kritiek is.
Vorster het die e-pos as, “’n ou e-pos wat ek al in Januarie uitgereik het,” beskryf.
“Die situasie het intussen verander. Die krisis situasie is vroeër in die staatskoerant as ‘n nasionale krisis beskryf en Prins Albert is nie daarin uitgesonder nie.
"Die Prins Albert-munisipaliteit en sy inwoners het met goeie samewerking hulself uit ‘n krisis gekry, alhoewel die besparing van water vir die afsienbare toekoms 'n prioriteit vir munisipaliteite en gemeenskappe in die Wes-Kaap, Prins Albert ingesluit, sal bly.”
“Die owerheid is dankbaar vir die gemeenskap se samewerking alhoewel daar nog verbruikers is wat net nie beperkings gehoorsaam nie.
"Dis egter individuele persone wat nie tot die voordeel van die gemeenskap wil saamwerk nie. Dit is nie die norm nie.”
Vorster sê daar sal teen die individue opgetree word.
“Danksy 'n deurlopende bewusmakingsinisiatief en streng wetstoepassing het die waterverbruik drasties verminder van ongeveer 2 Ml per dag vir Prins Albert tot 1,3 Ml per dag.
"Die mikpunt is 1,2 Ml of minder, per dag.”
Lees 'n vorige berig: Prins Albert uit waterkrisis
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Hessequa nuus'