PRINS ALBERT NUUS - Vanjaar se Prins Albert-leesfees van 3 tot 5 November word gekenmerk deur die bekendstelling van splinternuwe boeke.
Dis dié van Cas Wepener (Johanna en Die reis gaan inwaarts), Hans du Plessis (Drie vroue en 'n meisie), Richard Dean (Warriors, dilettantes and businessmen), Joyce Kotzè (Runaway Horses/Wintersrust), Mohale Mashigo (The Yearning) wat pas benoem is as finalis op die fiksie-kortlys van die Suid-Afrikaanse Literêre Toekennings (SALA), Sara-Jayne King (Killing Karoline), Glynnis Breytenbach (Rule of Law) en die Nederlander Bart de Graaff (Ware mense).
Die digter Gaireyah Fredericks (Mientjies en Kaaps is Hollands) gaan voorlees uit haar nuwe bundel 40 stories, 40 woorde op 40.
Al die ander boeke op die program is titels wat die afgelope maande verskyn het.
Die benadering van vanjaar se leesfees is dat die voorafgaande jaar se boeke bespreek word en dat die aanbiedings tersaaklik is.
Soos met vorige jare is die leesfees 'n intieme boekegeleentheid waar aanbiedings ná mekaar volg om feesgangers kans te gee om álle besprekings by te woon.
Bart de Graaff
Gaste moet ook die geleentheid kry om skrywers tussen gesprekke te ontmoet.
Dit is vanjaar ook die eerste keer dat 'n buitelandse skrywer by die fees optree.
Bart de Graaff, wat Afrikaans vlot praat, het Suid-Afrika in 2015 en 2016 besoek om navorsing te doen vir Ware mense.
Hy is 'n Nederlandse historikus en joernalis met 'n groot belangstelling in die Suid-Afrikaanse politiek en kultuur. Hy wou die nasate van die Khoi-Khoin opspoor en aan die woord stel.
Ware mense is die verhaal van Goliat Yzerbek, eienaar van die plaas Brandewijnsfontein, wat aan die Rietrivier grens, maar deur 'n groep sendelinge afgeneem word. Al sy pogings om sy grond terug te kry, het misluk.
Cas Wepener is 'n professor in teologie by Tukkies en het vier jaar gedebuteer met sy kortverhaalbundel Dubbelfoto, daarna met die opspraakwekkende Syferfontein, en nou met Johanna, wat beloof om ewe veel gesprek uit te lok.
Johanna handel oor Johanna de Swardt wat in die jare sestig in George grootword.
Dat sy gay was, was sosiaal onaanvaarbaar en na haar selfdood probeer haar familie en vriende dit verwerk.
Die reis gaan inwaarts is 'n studie van die sterwensproses in die boeke van Karel Schoeman. Wepener het die afgelope jare 'n studie van dié literêre reus se hele oeuvre gemaak.
Die gesprek van Glynnis Breytenbach met die joernalis Tim Cohen beloof om 'n hoogtepunt te wees.
Haar regsloopbaan het oor 26 jaar gestrek, en sy het bekend geword as 'n staatsaanklaer wat uitgesproke, onverskrokke en hardekop is.
Bo alles is beginsels haar dryfkrag.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'
Vir die volledige program en kaartjieverkope, besoek www.princealbertleesfees.org, of die Facebook-blad Prince Albert Leesfees. Akkommodasie: www.princealbert.org (Prins Albert-toerisme). Of bel die Prins Albert-biblioteek, 023 5411 034.