OUDTSHOORN NUUS - "'n Krygsman vir regverdigheid."
So is wyle eerw. David (Davy) John Booysen (62), tydens sy roudiens op Saterdag 18 Julie in die Weyers Memorial United Congregational Church deur eerw. Don Sauls beskryf.
Sauls het namens die United Congregational Church of Southern Africa hulde gebring aan Booysen wat op 9 Julie na 'n kort siekbed in Kaapstad oorlede is.
Booysen, 'n boorling van Oudtshoorn, het verlede jaar as leraar van die Bellville United Congregational Church die tuig neergelê. Volgens Sauls het Booysen as jong man 'n groot rol gespeel in die ontwikkeling van die jeug. Nie net op Oudtshoorn nie, maar ook plekke soos Heideveld en Manenberg waar hy in die bediening gestaan het. "Hy het ook ten spyte van talle uitdagings nederig gebly met 'n besondere sin vir humor en was 'n storieverteller van formaat."
Booysen se vier kinders het hul pa in roerende huldeblyke as 'n wonderlike rolmodel beskryf. Booysen laat sy vrou, Minette en vier kinders, Cisko, Joe, Luke en Mia agter.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'