KANNALAND NUUS - By Towerkop Primêr, met meer as duisend leerders, het spanning tussen ouers, onderwysers en lede van die beheerliggaam, tot kookpunt gekom.
'n Woelige ouer-onderwyser-vergadering verlede Dinsdagaand, het uitgeloop op 'n onderonsie tussen lede van die skoolbeheerliggaam en opvoeders. Die voorval het ten aanskoue van ongelukkige ouers plaasgevind.
Die volgende dag het ontevrede ouers die skoolterrein betree en gevra om met die kringbestuurder, Mias du Plessis, te vergader. Na die vergadering het die ouers 'n komitee onder leiding van Elmarie Johannes, gekies.
Johannes het heftig gereageer op die onderonsie wat plaasgevind het. "Hoe kan lede van die beheerliggaam met die onderwysers wil baklei. Hulle dra duidelik nie die belange van die skool op die hart nie. Ons eis dat hulle ontbind."
Die daaropvolgende ouervergadering wat hierdie week, Dinsdagaand, in die gemeenskapsaal gehou is, was 'n kruitvat. Nadat Johannes die vergadering begin het, het 'n paar ouers haar onderbreek en hulle is telkemale doodgeskreeu deur ouers wat duidelik gekant is teen die beheerliggaam. Die polisie se hulp moes ingeroep word toe dit gelyk het of vuisgevegte kon uitbreek.
Pastoor Daniel Flink het gesê: "Dis duidelik 'n politieke spel wat die beheerliggaam speel. Hulle meng in met die bestuur van die skool."
Die vergadering is in chaos verdaag.
Rodge Albertus, voorsitter van die beheerliggaam is genader om kommentaar na die vergadering en het gesê: "Hou maar net by geen kommentaar."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'