Die hoogtepunt van die naweek was die tyd-en-snelheidstoets Saterdagmiddag in Kerkstraat, oor 'n afstand van sowat 400 meter tussen die restaurant Lazy Lizzard aan die Swartberg-kant van die dorp en die NG kerk, waartydens 'n snelheid van 301 km/h aangeteken is deur Gary Kieswetter in sy 006 GT2, met Ian Harries in sy GT3 van 3,8 liter en Andrew Gun in sy 991 GT3 RS kort op sy hakke.
Die naweekkuier en bestuurstoetse is georganiseer deur Karl Illenberger en Ken en Lynda Wentzel.
Volgens Jane Plit, wat saam met haar man, Colin, lid is van die Kaapstadse Porsche-klub, was die naweek op Prins Albert “'n kuier vol pret en plesier, en is uitstekende georganiseer”.
Al die besoekers het in die Hotel Swartberg tuisgegaan.
Die klub het Prins Albert ook in 2014 besoek.
Volgens Plit is Prins Albert nie net mooi nie, met volop kuier- en verblyfplekke, maar word die dorp gereeld as Porsche-toetsplek gekies “omdat dit iewers halfpad tussen die Oos- en Wes-Kaapse klubsentra lê; dus toeganklik vir ons almal”.
Volgens Plit was daar twee bestuurstoetse – 'n tyd-en-snelheidstoets, asook 'n bestuursvernuftoets (auto-cross) op 'n roete in die hoofstraat wat, met verskeie padkeëls, groot uitdagings aan die bestuurders van hierdie baie vinnige motors gestel het.”
Die algehele wenner op grond van tyd, snelheid en vernuf was Illenberger, met die ander top-presteerders Shane Williams, Guiseppe Tagliaferri en Hennie Botha, asook Clifford Bacon en Andrew Gun in sy “silwer-en-rooi monster”.
Hoewel die eienaars van dié sportmotors passievol is oor hul rygoed, het hulle nie gehuiwer om 'n paar inwoners van die dorp – wat 'n hele paar kinders ingesluit het – op plesierritte te neem nie.

