OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n polisievrou van Beaufort-Wes, wat teregstaan op vier aanklagte van bedrog vir vals inskrywings in haar polisiesakboek is in die streekhof in Oudtshoorn vir uitspraak tot 6 Julie uitgestel.
Bernadette Arries (33), lid van die Beaufort-Wes-veediefstaleenheid, het die inskrywings in Januarie 2017 in haar ondersoekdagboek aangeteken terwyl sy eintlik by die huis was.
’n Klagte dat sy ‘n voertuig bestuur het sonder die toestemming van die eienaar is deur die staat teruggetrek.
Arries pleit onskuldig en voer aan dat sy die inskrywings vir ondersoeke in Leeu Gamka en Prins Albert voor die tyd gedoen het omdat sy glo aan depressie gely het en baie vergeetagtig was.
Sy het siek geword en vergeet om die inskrywings reg te stel.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, versoek die hof om haar weergawe te verwerp en skuldig te bevind op al vier aanklagte.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'