OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie vra hulp van die gemeenskap met die opsporing van verdagtes en verkryging van inligting in drie onopgeloste moorde.
Volgens sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het hulle nog geen lydrade oor wie die verdagtes is die moorde is nie.
Sy sê die eerste moord was die nag van 17 Mei 2015.
"Die liggaam van André Olkers is op 'n werf in Lynerstraat 5 gevind."
Olkers was 'n bekende rugbyspeler en 'n lid van die Oudtshoorn-rugbyklub.
Die Oudtshoorn Courant het in 2015 berig dat hy en sy broer die aand van die voorval op pad was huis toe toe sy Olkers glo met klippe gegooi is. Volgens sy broer, Dimitri, het Olkers agter die aanvallers aan gehardloop.
Hy het 'n rukkie later terug gekeer huis toe en op die grond geval. Sy familie het toe gesien dat hy in die bors gesteek is. Hy is 'n rukkie later dood.
Micheals sê die twee moord was op 31 Julie 2016.
"Die liggaam van Maria Majolla is in 'n erf in Madonnastraat 5, Rosebank gevind. Sy het verskeie steekwonde aan haar lyf gehad."
Die derde moord was op 22 September 2016.
"Justin April van GG Kamp, Oudtshoorn is deur 'n onbekende persoon aangerand. Die oorledene is op 27 September 2016 in die George-hospitaal aan sy beserings dood."
Indien enigiemand inligting oor die moorde het of wie die moontlike verdagtes kan wees, kan hulle ao. Martin Le Roux by 044 274 4400 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'