OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie is tans in die proses om reserviste te werf.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het dié week in 'n verklaring gesê dit is 'n vrywillige diens en enige persoon tussen 25 en 40 jaar oud kan aansoek doen.
"Persone wat suksesvol is sal deur die polisie opgelei word en dienste saam met operasionele lede verrig."
Volgens hom is daar sekere vereistes vir persone wat wil aansluit om te verseker dat die persone wat wel aangestel word, die take wat aan hulle opgelê word sal kan uitvoer.
"Van die belangrikste vereistes is dat die aansoeker 'n SA burger moet wees, geestelik, fisies en medies geskik moet wees en die aansoeker moet 'n vaste werk hê en in besit van 'n Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wees."
Die volledige vereistes en aansoekvorms is by Grieta Nel by die polisiestasie, kamer 103 op die eerstevloer, beskikbaar. Sy kan ook geskakel word by 044 203 9043.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'