OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn polisie-akademie het as deel van die inrigting se sosiale verantwoordelikheid Maandagoggend sanitêre doekies aan Hoërskool Môrester oorhandig.
"Die Akademie het 'n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap en hierdie is een van talle projekte waarvoor die personeel hande in eie sak steek," het lt.kol. John Solomons, waarnemende bevelvoerder van die akademie Maandagoggend tydens die oorhandiging gesê.
"Dit is 'n feit dat talle meisies 'n sekere tyd van die maand nie skool toe gaan nie omdat hulle nie oor sanitêre doekies beskik nie.
Om sonder hierdie noodsaaklikheid skool toe te gaan veroorsaak 'n ongemaklikheid wat meisies nie wil deurmaak nie," het Solomons gesê.
"Dikwels is die tekort aan die doekies omdat ouers werkloos is en hierdie is 'n geringe bydrae om te help."
Die polisie wil, volgens Solomons, graag 'n bydrae lewer om tot die opleiding van die jeug te help.
Volgens hom is die skenking van sanitêre doekies aan skole een van drie projekte wat die akademie vir die jaar geïdentifiseer het.
Die ander twee projekte was besoeke aan skole tydens die 67 minute vir Madiba waartydens sop en broodjies by verskeie skole uitgedeel is asook om leerders tot gr. 3 te ondersteun waar moontlik.
Lt.kol. Johan Solomons (middel) en van sy kollegas van die Oudtshoorn polisie-akademie, saam met Belinda Muller, waarnemende adjunkhoof van Hoërskool Môrester, Jo-Marie Afrika (hoofdogter), Janelle Robertson (onderhoofdogter) en Charmaine Taute (opvoeder).
Die skool se aangewese onderhoofdogter vir 2018, Janelle Robertson, het die polisie namens die skool vir die skenking bedank.
ARTIKEL EN FOTO: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'