KLEIN-KAROO NUUS - Die Safer Festive Season-veldtog van die Wes-Kaapse polisie is goed op dreef en het reeds sukses behaal nadat daar onder meer gister, Dinsdag 12 Desember, meer as 13 kg dagga in 'n voertuig naby Dysselsdorp op die N12 gevind is.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die veldtog daarop gemik om sigbaarheid van die polisie te verhoog veral by die ingangspunte na die provinsie. Die veldtog het reeds daartoe gely dat twee verdagtes in hegtenis geneem is vir die besit van dwelms, in twee aparte insidente.
Spies sê dat polisiebeamptes van Da Gamaskop Sondag 10 Desember omstreeks 20:40 tydens 'n patrollie 'n voertuig opgemerk het wat teen 'n hoë spoed vanaf Kwanonqaba af gery het, waarna hulle die voertuig onmiddellik agternagesit het.
"Die voertuig, 'n Chevrolet Spark, is tot stilstand gebring in Bill Jeffreystraat, D' Almeida, en toe die beamptes die voertuig deursoek het hulle 1 000 Mandrax-tablette gevind wat in 'n inkopiesak aan die passasierskant versteek was," sê Spies.
Hy voeg by dat die beamptes die dwelms konfiskeer het, ter waarde van R50 000, en 'n 41-jarige man in hegtenis geneem het op 'n klag van dwelmhandel.
"Die verdagte, 'n Nigeriese burger, bly in aanhouding. Hy sou Dinsdag (12 Desember) sy eerste verskyning in die hof maak," sê Spies.
Die sakke dagga.
In die tweede insident het Dysselsdorp-polisiebeamptes, ontplooi op die N12 by 'n voertuig kontrolepunt, omstreeks 04:30 op Dinsdag 12 Desember, 'n bakkie gestop volgens Spies.
"Die beamptes het die voertuig deursoek en 19 plastieksakke met dagga daarin gevind. Die dagga het 13.1kg geweeg," sê Spies.
Die dagga is volgens Spies deur die polisiebeamptes gekonfiskeer en 'n 27-jarige man van Mosselbaai is in hegtenis geneem op 'n klag van die besit van dwelms. Die man bly in aanhouding en sal in die hof verskyn sodra hy aangekla word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’