LADISMITH NUUS - Lede van die Ladismith-polisie, die Attakwa honde-eenheid sowel as lede van die polisie se openbare orde-eenheid het verlede week onder meer twee persone vir die onwettige handel in dagga in hegtenis geneem.
Volgens ao. Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie, was dit 'n misdaad gedrewe operasie waartydens altesaam vyf persone in hegtenis geneem is.
"By 'n perseel bekend as Doornkraal Haven het die polisie op 331 daggabome en 7,13 kg verwerkte dagga beslag gelê. Twee persone, 24 jaar en 46 jaar oud, is in hegtenis geneem." Cederas sê verder by 'n huis in Proteaweg in Zoar is twee persone, 32 jaar en 35 jaar oud, vir die besit van Mandrax en tik in hegtenis geneem. Volgens hom is daar ook 'n 57-jarige man gearresteer vir die verkoop van alkohol sonder 'n lisensie.
"Die polisiebeamptes het 76 bottels bier en vyf bokse wyn op die perseel gekonfiskeer."
Die hoof van sigbare polisiëring, kapt. Henry John Edwardes, het sy dank en waardering teenoor die polisiebeamptes uitgespreek. Hy het die gemeenskap verseker dat meer optredes teen dwelms gehou gaan word.
Die persone wat in hegtenis geneem is het Dinsdag in die Ladismith-landdroshof verskyn.
Die verwerkte dagga wat deur die polisie gekonfiskeer is. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'