Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtsoorn-polisie, het die eerste voorval om 08:10 Woensdagoggend gebeur.
"Die lede van die honde-eenheid het 'n roetine deursoeking van 'n Greyhound-bus gedoen terwyl dit by Pick n Pay geparkeer was.
Die dwelmhond het 'n verdagte sak in die waentjie van die bus uitgewys en met verdere ondersoek is 200 bossies khat in 'n swart drasak gevind," het hy in 'n verklaring gesê.
Omdat die sak nie gemerk was nie, is niemand in die voorval in hegtenis geneem nie. Die straatwaarde van die khat word op R20 000 beraam.
In die tweede voorval het dieselfde lede van die honde-eenheid 'n patrollie in Hoogstraat gedoen waar twee vroue van Knysna vir die besit van dagga in hegtenis geneem is.
"Twee vroue wat al van te vore vir die besit van dagga in hegtenis geneem is, is voor Checkers opgemerk. Die vroue het drie sakke by hulle gehad en die polisie het dit deursoek. Die sakke was vol dagga," het Visser gesê.
Die twee vroue, onderskeidelik 20 en 21 jaar oud is nog nie aangekla nie en het nog nie in die hof verskyn nie.
Die sakke dagga het 22,7 kg geweeg en die straatwaarde word op R22 700 beraam.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'