Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die Tuinroete-distrikskommisaris, maj. genl. Norman Modishana het 131 nuut opgeleide konstabels na verskeie dorpe in die streek ontplooi, ter aanvulling van polisie-eenhede wat reeds toegewys is aan veiliger feesseisoenoperasies onder die tema “Meer stewels op die grond vir verbeterde polisiesigbaarheid”.
Volgens sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het hulle Woensdag, 21 Desember by 'n parade in George bymekaargekom voor hul ontplooiing na Thembalethu waar bedrywighede begin het.
Operasies is ook gister in Oudtshoorn gehou. Die operasies het padblokkades, voertuig-deursoekpunte, die toemaak van shebeens, nakomingsinspeksies by tweedehandse winkels, sekerheidsmaatskappye en drankwinkels ingesluit.
Die operasies is in samewerking met die Wes-Kaapse verkeersdepartement, buurtwagte en vrywilligers gedoen.
FOTOGALERY: Nuwe opgeleide konstabels for Tuinroete
Volgens Spies is daar in Oudtshoorn twee persone in afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem. Die een is vir die onwettige besit van dwelms in hegtenis geneem terwyl die ander vir die besit van implimente wat gedurende ‘n huisbraak gesteel is, in hegtenis geneem is.
“Die span het ook verskeie klein hoeveelhede dwelms en daggaplante gekonfiskeer en boetes ter waarde R9 400 is uitgereik.”
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'