OUDTSHOORN NUUS - 'n Brand wat vroeër vanaand in die koshuis van die Eljada-Kairos skool uitgebreek het is deur die blitsige optrede van polisielede geblus voordat dit kon versprei.
Volgens kolonel Wayne Venter, skofbevelvoerder, het 'n geskokte personeellid van die koshuis, wat oorkant die polisiestasie geleë is, by die aanklagkantoor ingehardloop en gesê 'n kamer is aan die brand.
Venter en agt lede wat op die punt was om van skof te gaan het na die koshuis gehardloop, brandblussers gegryp en die vuur wat reeds 'n matras en gordyne verteer het geblus.
Van die lede het toegesien dat die kinders veilig ontruim word.
Volgens 'n lid van die brandweer sou die plafon aan die brand geslaan het as die polisie nie so vinnig opgetree het nie.
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie en niemand is in die voorval beseer nie.
Personeel van die koshuis het die polisie en die brandweer geloof vir hulle vinnige optrede.
Brandweervoertuie voor die koshuis. Foto: Liezl van Niekerk
As en poeier van die brandblussers het nog in die vertrek gehang met die aankoms van die Oudtshoorn Courant. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'