OUDTSHOORN NUUS - Honderde kinders van plase in die Oudtshoorn-distrik het vir Kersfees Kersgeskenke ontvang danksy die inisiatief van Phillip Seroux van die Polisiehoogte-nasorgsentrum en -sopkombuis.
Volgens Seroux het die Royal Kids van 'n egpaar van Kaapstad, Danolene en Tony Johanneson, 'n groot hoeveelheid speelgoed en lekkers verskaf aan die Go Light Our World-projek (GLOW) van die gospelsangeres, Lizelle van Hansen, wat die afgelope ses jaar Kersgeskenkies aan behoeftige kinders van Oudtshoorn oorhandig het.
Volgens Seroux is besluit om vanjaar na plase uit te reik nadat hy in kontak gekom het met die Johanneson-egpaar.
Volgens Danolene is by die 2 000 kinders verlede week bereik.
"Alles is net danksy die genade van ons Hemelse Vader," sê Danolene.
Volgens haar het sy en haar man Royak Kids twee jaar gelede begin en groei dit steeds danksy al hoe meer mense wat betrokke raak. Die projek op Oudtshoorn was hul eerste Kersfees partytjie en hulle hoop om dit voortaan 'n jaarlikse gebeurtenis te maak, gesien in die lig van al die vreugde op die kinders se gesigte.
Seroux sê hy is ook groot dank verskuldig aan die Oudtshoorn Rotariërs en nog donatuers wat die uitreiking moontlik gemaak het.
Hulle het kleuterskole en speelgroepe op die plase Volmoed, De Hoop, Lategansvlei, Kammanassie, Rooiheuwel, Seekoeigat en Welgeluk besoek waar Kersvader die geskenke uitgedeel het.
• Seroux is tans ook besig met 'n Terug Skoolktoe-projek om skoolklere vir plaaskinders in te samel en mense wat hom hiermee wil help kan hom by 079 987 9486 skakel.
Phillip Seroux, links, saam met van die kinders wat geskenke ontvang het. Foto's: Garnett Wicomb
Kinders by Nasorg is deur Kersvader bederf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'