OUDTSHOORN NUUS - Vonnisverrigtinge in die saak teen ‘n 44-jarige man van Oudtshoorn met 12 vorige veroordelings, wat aan poging om te verkrag en aanranding om ernstig te beseer, skuldig bevind is, is in die streekhof uitgestel omdat ‘n maatskaplike verslag nog nie beskikbaar was nie.
Piet Meyer het skuldig gepleit dat hy sy saamleefmaat, Johanna Draai, met ‘n graaf geslaan en probeer verkrag het.
Hy sê in ‘n pleitverduideliking, wat deur die staat aanvaar is, dat hy die betrokke dag ‘n 4 liter kan wyn gedrink en baie dronk was.
Hy kan nie onthou wat gebeur het nie, maar stry nie dat dit waarvoor hy aangekla word, wel plaasgevind het nie. Hy is baie jammer daaroor en verstaan dat hy gestraf moet word.
Draai, wat die saak wou terugtrek, het ter versagting van vonnis die hof gevra om Meyer ‘n opgeskorte vonnis op te lê omdat hy vir haar en sy 10-jarige gestremde kind sorg. Volgens haar het hy sy lewe verander. Hy drink nie meer wyn nie, maar net ‘n biertjie oor naweke en is “baie goed vir haar”.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof vir die oorweging van direkte gevangenisstraf gevra. Dit was die tweede keer dat Draai hom aankla en nou ook vir ‘n tweede keer die hof kom vra om die aanklagte te laat vaar.
Sy het self drie kinders wat deur haar ma grootgemaak word.
Arnolds het dit aan haar gestel dat sy ‘n volgende keer dood kan wees en dan nie hof toe sal kan kom nie. Sy het die hof versoek om Meyer in hegtenis te hou en direkte gevangenisstraf op te lê. Streeklanddros Daniel Boks het die saak Maandag vir die maatskaplike verslag en vonnis tot 3 Maart uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'
.