Die Centre of Hope-gebou, wat langs die munisipale store 'n blok van Dassieweg geleë is, was al verskeie kere die teiken van misdaad.
Tydens verskeie inbrake is kantoor- en rekenaartoerusting gesteel. Met die jongste inbraak het die inbrekers 'n stewige veiligheidshek uit die muur gebreek om toegang tot die gebou te kry. Dit het ook aan die lig gekom dat jong seuns onlangs helder oordag probeer het om hekke by die gebou af te breek terwyl die personeel binne was.
Daar is ook onlangs by een van die personeellede se motors, wat direk voor die gebou staan, ingebreek. Met die naweek se inbraak is kabels, waterpype, krane, kragdrade en rekenaartoerusting gesteel.
"Ons is heeltemal alleen hier. As ons in die moeilikheid is, is daar niemand wat ons sal hoor nie," het een van die personeellede Maandag gesê.
Die Oudtshoorn Courant het die onveilige situasie by die Centre of Hope-gebou Dinsdagoggend onder die aandag van die burgemeester, Gordon April, gebring en hy het onderneem om onmiddellik daaraan aandag te gee. Die burgemeester het die gebou Woensdag besoek en gesê hy is dankbaar dat die Oudtshoorn Courant hom persoonlik van die situasie ingelig het.
Hy het die volgende onmiddellike reëlings ingestel om te verseker dat die personeel weer in die kantore kan werk: 'n Sekuriteitswag is aangestel om 24 uur diens te doen, diefwering en 'n veiligheidshek is versterk en die toerusting wat gesteel is word vervang.
Die maatskaplike werker van APD, Carin le Roux, het Woensdag ook verskeie ander probleme in die gebou aan die burgemeester uitgewys en hy het onderneem ook dringend daaraan aandag te gee. Die gebou word ook gebruik vir opleiding van gestremdes, maar is in 'n verwaarloosde toestand met 'n toegangspad wat nie vir gestremdes geskik is nie.
Die Centre of Hope-gebou is afgeleë en naby 'n gebou wat twee weke gelede deur plunderaars stuk vir stuk afgebreek en weggedra is. Aangesien die inbrekers dié naweek hoofsaaklik elektriese bedrading, koperpype en krane gesteel het is daar 'n vermoede dat hulle slegs belangstel in materiaal wat as skroot verkoop kan word.
"Ek is seker hulle wou die veiligheidshek ook uitbreek om dit te gaan verkoop," het 'n besorgde sakeman op die toneel gesê. "Daar is 'n groot mark vir yster en die skrootwerwe koop dit sonder om vas te stel waar dit vandaan kom."
In 'n navraag oor die handel in skrootmateriaal het polisiewoordvoerder, kapt. Louis Visser, gesê dat skroothandelaars deur die wet verplig word om slegs vir die aankoop van sekere metale soos koper, brons en aluminium op bewys van identiteit van die verkoper moet aandring. Daar is nie voorskrifte vir ander metale wat nie op die lys verskyn nie.
Die burgemeester, Gordon April (tweede van links) het Woensdag onderneem om veiligheidskwessies by die gebou wat deur APD vir gestremdes gebruik word, aan te spreek. By hom is (van links) Carin le Roux (maatskaplike werker), Elna Madolo (maatskaplike werkersassistent) en Kosie Claassen (APD ondervoorsitter). Foto: Hannes Visser.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoonuus'