OUDTSHOORN NUUS - Dis amptelik. Perseverance-rugbyklub maak sy terugkeer tot SWD-amateurrugby se klubstrukture. Perseverance is 'n gewilde rugbyklub wat in die negentigerjare homself onaktief verklaar het na die stigting van die huidige Bridgton-rugbyklub in 1992.
Sowat 50 belangstellendes en oudspelers het Sondag dié klub se eerste ope vergadering by die Thusong-sentrum bygewoon. Hulle het Perseverance-strydrosse soos Deuran Darries, Edgar Erasmus, Jerome Jantjies en Danie Murray ingesluit.
Na afloop van die verrigtinge is 'n nuwe interim-bestuur ook demokraties verkies. Perseverance is tans in die proses om te registreer vir affiliasie by SWD-rugbyunie. Goedkeuring vir die klub om in die Karoostreek (intreevlakliga) te speel sal in Novembermaand eers deur dié unie bevestig word.
'n Volledige aansoek is ook intussen reeds by die Oudtshoorn-munisipaliteit ingedien sodat die Oudtshoorn-sportterrein as dié klub se tuisveld in die toekoms (indien goedgekeur) sal dien.
Volgens Greg Baartman, amptelike woordvoerder van Perseverance, is daar besluit om weer terug te keer na 'n goue era toe wedersydse respek nog hoog op prys gestel is.
Die klub wil dit egter duidelik stel dat hy geensins 'n nuwe klub op die been gebring het omdat hy ontevrede is oor die manier hoe dinge nou gedoen word nie.
"Ons het bloot navorsing gedoen en gevind dat daar honger talentvolle rugbyspelers daar buite is wat nie speelkans kry nie. Een van ons hoofdoelwitte is om jong swart spelers in Bongolethu te ontwikkel. Die klub is ook bekommerd oor die groot getalle plaaslike wit spelers wat verlore raak in die rugbysisteem. Perseverance kan vir hierdie spelers 'n tuiste skep waar hulle kan floreer op sport sowel as akademiese gebied."
Die nuwe interim-bestuurslede van Perseverance-rugbyklub is voor, van links: Cedric Alkana (sekretaris), Carlos Biljohn (voorsitter), Albert Nokole (ondervoorsitter), Japie Pockpas (hulpsekretaris), Caylin Daniels (kassier), Philip Rensburg (addisionele lid), Greg Baartman (mediabeampte), Beatrice Klatie (addisionele lid). Foto: Wyndham Ewerts
Die gasspreker by die vergadering, Johan Weyers, het in sy spreekbeurt daarop gewys dat die klubs en bestuurslede moet besef dat enige rugbyklub 'n gemeenskaps-organisasie is.
"Dit beteken dat deursigtigheid aan die orde van die dag moet wees. Die klub, ondersteuners en die publiek moet byvoorbeeld weet wat in die klub se finansiële state aangaan."
Hy het ook beklemtoon dat pligte nie met mekaar moet oorvleuel nie. Spelers moet speel en bestuurslede moet bestuur. Volgens Weyers beoog die klub om spelers (insluitende vroue) en afrigters optimaal te ontwikkel sodat hulle op die einde van die dag ook beter mense in hul persoonlike hoedanighede kan wees. "Kundigheid en professionaliteit is die wagwoord," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'