OUDTSHOORN NUUS - Vanjaar se Oudtshoorn-perde uithouritte, wat deur die Garden Route Endurance Club (GREC) aangebied word, begin vandag (15 September) en duur môre, 16 September voort.
Die rit vind by Berluda Farmhouse and Cottages in Schoemanshoek plaas. Die roete neem ruiters deur die pragtige Schoemanshoekvallei en oor enkele plase in die omgewing, onder andere deur 'n wildkamp met n verskiedenheid wildsoorte.
Vandag om 14:00 begin die 40 km-uithourit, asook veearts-ondersoeke vanaf 16:00 vir Saterdag se deelname.
Saterdagoggend om 04:00 sal die ruiters wat deelneem aan die 120 km-rit, wegspring. Om 06:00 is dit die 80 km-ruiters se beurt en om 07:00 die 40 km-deelnemers.
Die hoofkompetisie van die dag is die Garden Route 80 km-uitdaagren, waar die speelveld gelyk gemaak word deurdat liggewigruiters met 6% stadiger spoed gepenaliseer word en swaargewig met 6% spoed toegegee word. In hierdie kompetisie is daar 'n R10 000 prysgeld op die spel.
Die prysuitdeling vind Saterdag om 15:00 plaas. Volgens Lizel De Waal, organiseerder van die 2017-uithouritte, gaan wyle Nico du Bois se entoesiasme en liefde vir perderui-ters aanspoor om te ry.
"Nico was as hooforganiseerder, altyd die hart van hierdie rit. Sy plekkie agter die mikrofoon gaan leeg wees. Maar ten spyte van die hartseer van sy skielike dood na 'n motorongeluk op 30 Augustus, net buite Oudtshoorn, gaan die rit voort."
"Du Bois se hart het altyd warm geklop vir die gemeenskap."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'