BEAUFORT WES NUUS - 'n Pensioenaris van Beaufort-Wes sit met haar hande in die hare omdat sy sukkel om geld wat twee manne in blou haar skuld te kry.
Paulina Galant (75) sê al haar vorige pogings om geld uit die twee te kry was tevergeefs.
Sy verkoop huishoudelike items om haar pensioen aan te vul, maar volgens haar het die beamptes haar nooit betaal vir items wat sy aan hulle gelewer het nie. Die adjudant-offisier en konstabel skuld haar onderskeidelik R1 500 en R860.
Volgens haar het sy by die twee se onmiddellike hoof gaan aanklop vir hulp, maar hy het haar na die hof vir kleineise verwys. "Maar dit kos ook geld en intussen dring die verskaffer aan op sy geld wat ek nie kan betaal nie."
Sy het geld by 'n leningsplek gaan leen om die verskaffer te betaal sodat sy met haar besigheid kan voortgaan. Galant sê sy wil net haar geld terugkry en is baie teleurgesteld in die twee polisiebeamptes. "Ek wil ook hê die mense van Beaufort-Wes moet kennis neem sodat hulle nie in dieselfde strik trap nie."
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'