Warning: Graphic content
OUDTSHOORN NUUS - Met somer om die draai is skilpaaie al meer sigbaar. Na twee skilpaaie met redelike ernstige beserings by dr. Glen Carlisle, 'n plaaslike veearts, afgelaai is, sê hy is dit nodig om die kwessie oor die beskerming van diere in die natuur weer te beklemtoon.
"Dit is eintlik hartseer om te dink dat mens aan ander mense moet sê wees op die uitkyk vir wilde diere te wees, veral skilpaaie. En dit is ewe erg om te dink dat mens aan ander mense moet sê moet asseblief nie die skilpaaie met klippe gooi en kap nie. "
Dr. Carlisle behandel gereeld beseerde skilpaaie en wanneer dit nodig herstel hy ook, op eie onkoste, die doppe van die skilpaaie met glasvesel.
Carlisle sê hy wil sulke kwessies onder die gemeenskap se aandag bring sodat toekomstige voorvalle verhoed kan word.
"Die gemeenskap moet saamstaan om te probeer verhoed dat so iets met die wilde diere gebeur. Skilpaaie is totaal onskadelik en het ook die reg op lewe, net soos enige ander mens en dier. Ek dink dit is ook belangrik dat ouers met hulle kinders moet praat oor die bewaring van die diere wat in die natuur leef en die kinders leer om nie die diere seer te maak nie."
Een van die skilpaaie wat deur dr. Glen Carlisle behandel word.
'n Skilpad wat met klippe gegooi is wat tans by dr. Glen Carlisle herstel. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'