OUDTSHOORN NUUS - Die legendariese afleweringsfiets van The Paint Pot in Kerkstraat is verlede week gesteel, maar is na twee dae weer terug gekry.
Volgens Annamarie Janse van Rensburg, eienaar van The Paint Pot, het haar pa-hulle 35 jaar gelede die winkel gekoop en was die winkel toe reeds 25 jaar aan die gang.
"Die fiets het saam met die winkel gekom en was op daardie stadium een van twee fietse by die winkel. So ons kan nie presies sê hoe oud die fiets is nie, maar dit word al die jare nog vir aflewerings gebruik. Ons het, presies soos nou, twee mense gehad wat aflewerings gedoen het en hulle het met die fietse die 20 liter verf met die fietse laat aflewer. Ons het darem nou 'n bakkie vir die groot houers verf. My pa het 20 jaar gelede skielik gesterf en maande na sy dood het die fietswinkel gebel en gesê die fiets is by hom vir 'n diens, wil ons nog die fiets hê. So die spesifieke fiets was al 'n ruk weg en ons het hom weer gekry. Ons het 'n ruk terug iemand betrap wat hom probeer steel het, maar kon dit keer. Die ander fiets word nie meer gebruik nie, maar dié een hou ons nog aan die gang om die tradisie te laat voortleef," vertel sy.
Volgens haar het hulle verlede week agtergekom dat die een fiets gesteel is.
"Ek het op Facebook gesit dat die fiets gesteel is en inwoners van Oudtshoorn het begin om vir my boodskappe te stuur oor waar hulle die fiets gesien het. Twee dae later het iemand gebel en gesê hulle het die fiets gesien en ons het gaan kyk of dit die regte fiets is. Op daardie stadium het hulle al die bordjie met die winkel se naam afgehaal en hulle het met hom geval, want jy het omtrent drie jaar ervaring nodig om met die fiets te ry. Ons het toe die polisie gebel en daar is 'n paar mense gevang."
Volgens haar was die fiets in drie dele toe hulle hom teruggekry het.
"Hy is uitmekaar gehaal sodat ons hom seker nie moet herken nie, en ons het verneem dat iemand die fiets teen R80 wou verkoop. Ons is net dankbaar dat ons die fiets teruggekry het."
Volgens Janse van Rensburg kort die fiets pedale en 'n saal en moet die handvatsels weer reg gebuig word.
"Anton Roetz het gesê hy sal die fiets restoureer. Dit was vir my so 'n mooi gebaar. Ek wil graag almal in die gemeenskap, insluitend die polisie, bedank vir hul hulp om die fiets weer terug te kry."
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê vier persone is in verband met die diefstal in hegtenis geneem en hulle het reeds op 15 Januarie in die hof verskyn. Die saak is tot 20 Februarie uitgestel.
Die fiets van The Paint Pot wat gesteel was. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'