OUDTSHOORN NUUS - ‘n Pa van Ladismith wat sy kinders by tye nie kos of water wou gee nie en een se been gebreek het, is in die Oudtshoorn streekhof gevangenisstraf van 21 jaar opgelê nadat hy op drie klagtes van aanranding om ernstig te beseer en een van kindermishandeling skuldig bevind is.
Die 30-jarige Manuel Ngalo het op 7 Maart 2019 sy twee-jarige dogtertjie aan haar arm gevat en by die deur uitgegooi.
Op 10 November 2019 het hy die kind geslaan en geruk dat sy val en op 19 Februarie 2020 haar teen die bord van ‘n bed en ‘n sementvloer gegooi, op haar getrap en haar been gebuig.
Die klagte oor kindermishandeling het gegaan oor voorvalle in 2019 en 2020 toe hy geweier het om vir die twee kinders kos of water te gee.
Hy het onskuldig gepleit en aangevoer dat die kind haar been gebreek het toe sy van ‘n trappie geval het.
Volgens die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het Ngalo die kind herhaaldelik aangerand omdat hy geglo het dit nie sy kind is nie en het haar been op twee plekke gebreek.
Volgens Plaatjies kan sy nie dink dat enige volwasse persoon ‘n kind so kan aanrand soos wat Ngalo gedoen het nie.
Sy sesjarige kind het getuig dat hy geslaan moet word soos wat hy hulle geslaan het.
“Die staat se versoek is dat die beskuldigde so lank as wat die hof kan uit die gemeenskap geneem moet word,” het Plaatjies gesê.
Ngalo se regshulpprokureur, Wenzel, Botha, het die hof versoek om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnisse en nie ‘n “Metusalem-vonnis” op te lê nie.
Streeklanddros Daniel Boks het Ngalo se getuienis as vals en leuenagtig bevind en verwerp.
“Die beskuldigde se getuienis kan nie opgaan nie en die hof is tevrede dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.” .
Die hof het die eerste twee klagtes van aanranding vir vonnis saamgeneem en Ngalo tot 7 jaar gevangenisstraf gevonnis. Op die derde aanklag van aanranding is hy tot tien jaar gevonnis en vir kinderemishandeling tot vier jaar waarvan twee jaar samelopend met die tien jaar uitgedien kan word vir effektiewe tronkstraf van 19 jaar agter tralies.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'