OUDTSHOORN NUUS - Die 27-jarige Abriel van Wyngaard is die afgelope naweek vermoor omdat hy glo vir 'n verkeerde persoon aangesien is.
Volgens Schernay Wyngaard, het haar broer Saterdagaand saam met vriende gekuier en was in die vroeë oggendure van Sondag op pad terug huis toe, toe die voorval gebeur het.
"Ek was nie self daar nie, maar het gehoor by die man wat saam met hom was, dat 'n motor in Avontuurstraat reguit op hulle afgejaag en by hulle gestop het. Die mans het uitgespring en, sonder om eers uit te vind wie hy is, aan Abriel begin slaan en hom gesteek. Hy was amper by die huis en het gestap tot by die huis en hard aan my ma se venster geslaan en gesê dat hy gesteek is."
Volgens haar het haar broer teen die muur onder hulle ma se slaapkamervenster inmekaargesak.
"Ek het by hom gaan sit en hom vasgehou. Ek het hom gevra wie hom gesteek het, maar hy het nie eens geweet wie die mense was of hoekom dit gebeur het. Hy is 20 minute later, kort voor die ambulans opgedaag het, dood. Ek het nie steekwonde voor aan sy lyf opgemerk nie, maar gesien toe die paramedici hom omdraai dat hy 'n diep gat agter sy rug gehad het. Die wond moes tot in sy long gegaan het, want daar het baie bloed by sy mond uitgekom."
Volgens haar het twee jong mans Sondag by hulle opgedaag en gesê dat hulle met die mense wat glo vir Abriel gesteek het, baklei het.
"Die outjies het gesê dat hulle vroeër Saterdag in 'n bakleiery met die mans was wat my broer gesteek het. Hulle het toe weggehardloop en die mans het 'n motor gaan haal en na 'n jong man met 'n rooi broek en blou baadjie gesoek het. My broer het Saterdag 'n rooi broek en 'n blou baadjie soortgelyk aan die seun s'n aangehad.
Toe hulle hom sien loop het hulle seker gedink dis dieselfde man waarmee hulle vroeër baklei het, maar dit was nie hy nie. Hy het in elk geval nooit eers met enigiemand baklei nie. My broer se lewe is geneem en niks sal dit verander nie. Dit was heeltemal onnodig. Hulle kon darem eers seker gemaak voor hulle hom so seer gemaak het."
Van Wyngaard sê Abriel se jongste seuntjie is nog nie eens twee weke oud nie.
"Hy het drie kinders. Twee dogtertjies en 'n seuntjie. Hy was so opgewonde oor die seuntjie se koms. Hy was 'n hardwerkende man wat elke dag 05:00 opgestaan om in George te gaan werk. Hy was erg oor familie en het daarvan gehou om by die huis te wees saam met sy kinders. Hy het ook graag in die tuin gewerk. Hy en sy jongste kind se ma, Candice Solomons, sou September getrou het."
Hy word deur sy ma, Sarah Khan, sy verloofde, sy broer en suster en drie kinders oorleef. Begrafnisreëlings was teen Woensdag nog nie gefinaliseer nie.
Volgens sersant Christopher Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is 'n 27-jarige verdagte in verband met die moord in hegtenis geneem.
Abriel van Wyngaard
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'