PRINS ALBERT NUUS - Prins Albert-munisipaliteit se munisipale bestuurder, Aldrick Hendricks, het onlangs in die hof in Vredendal verskyn na hy saam met drie ander verdagtes vir bedrog in hegtenis geneem is.
Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die DA in Prins Albert het die week 'n verklaring uitgereik waarin hulle sê dat hulle bewus is van die berigte in die media oor sy arrestasie.
"Aldrick Hendricks het op 26 Mei in die hof in Vredendal verskyn. Hy is glo deur die Valke op aanklagte, wat met persoonlik beskermde toerusting-bedrog verband hou, in hegtenis geneem. Die voorval het glo by die Matzikama-munisipaliteit in 2020 gebeur," het Sharna Fernandez, die DA se kiesafdelingshoof in Prins Albert gesê.
Volgens haar het Hendricks die munisipale raad op 23 Mei in kennis gestel dat hy drie dae later in die hof moes wees.
"Hy het agtergrond oor die aanklagte teen hom gegee. Hy het ook, volgens hom, tydens sy aanstelling as waarnemende munisipale bestuurder in 2021 aan die burgemeester op daardie stadium, Goliat Lottering, gesê dat hy ondersoek word. Hy het ook op 23 Mei vanjaar gesê dat indien die raad wil hê hy moet bedank, sal hy dit doen."
Volgens Fernandez moet die reg nou sy gang gaan.
"Die Handves van Regte sê almal het die reg tot 'n regverdige verhoor en is onskuldig tot skuldig bewys. Hendricks moet weer op 12 Julie in die hof in Vredendal verskyn. Intussen verwag ons dat hy en sy administratiewe span op dienslewering aan die gemeenskap van Prins Albert sal fokus."
Volgens 'n verklaring van Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, is die bedrag betrokke in die saak ongeveer R400 000. Hy is saam met Izak Edward Jenner (50), Jafta Booysen (51) en Nicolaas Jacobus Klazen (50) in hegtenis geneem.
"Die groep word van bedrog aangekla omdat hulle onwettig met 'n diensverskaffer, Duneco cc, saamgespan het, 'n entiteit wat onwettig 'n tender toegeken is na hulle nie behoorlike voorsieningskettingprosedures in April 2020 gevolg het nie."
Booysen is ook 'n munisipale bestuurder terwyl Jenner 'n voormalige Covid-19-koördineerder by die Matzikama-munisipaliteit was. Klazen word met die diensverskaffer verbind.
Al vier die verdagtes is op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Oudtshoorn Courant het probeer om met Hendricks te gesels, maar hy het nie op navrae gereageer nie.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'