OUDTSHOORN NUUS - 'n Botsing in die Outeniquapas het op Goeie Vrydag die lewe van 'n vrou van Dysselsdorp geëis.
Rachel Swartbooi (57) was deel van 'n groep van 10 mense wat in 'n Nissan Hardbody bakkie na George vir die Paasnaweek onderweg was toe die ongeluk omstreeks 20:40 plaasgevind het.
Volgens sers. Mike Opperman, die George-polisie se kommunikasiebeampte, het die 26-jarige bestuurder van die bakkie in reënerige toestande in 'n draai beheer oor die voertuig verloor waarna dit teen die rotswand vasgery en omgeslaan het.
Rachel se broer, Hermanus Hendricks, het die week aan die Oudtshoorn Courant gesê, sy was saam met familielede in die bakkie toe die ongeluk gebeur het.
Volgens hom was hulle twee persone voor in en agt agterop die bakkie.
Haar man, July, was saam met haar op die bakkie. Teen Donderdag was July reeds uit die hospitaal ontslaan. Sewe ander persone wat saam in die bakkie was is ook ontslaan. Die bestuurder van die bakkie en 'n jong meisie is nog in die hospitaal. Die insittendes het verskeie beserings soos beenbreke, kop-, nek- en rugbeserings opgedoen.
July het Donderdag gesê dat hy moontlik Kaap toe moet gaan vir 'n opvolg besoek om sy beserings te evalueer.
Rachel se seun, Lawrence Andries, is ook intussen in die hospitaal opgeneem weens spanning na sy se ma se dood.
Sy word deur haar man, haar broer en suster, asook drie kinders oorleef. Die familie is besig met reëlings vir die begrafnis wat op Saterdag 14 April, in Dysselsdorp plaasvind.
Ongelukke in die pas
Die George Herald, susterskoerant van Oudtshoorn Courant , het hierdie jaar reeds oor meer as 10 ongelukke in die pas berig.
Op 'n navraag of meer en verbeterde padtekens 'n verskil aan die ongeluksyfer op die pas sal maak, het die woordvoerder van die departement van vervoer en openbare werke, Byron la Hoe, gesê dat padtekens slegs verbeter kan word mits bestaande tekens nie doeltreffend is nie. "Daar moet eers vasgestel word of daar spesifieke 'probleemdraaie' is, en dan sal die sukses van die verbeterde tekens afhang of motoriste daarop gaan ag slaan of nie."
Rachel Swartbooi se man July wat ook in die bakkie was toe die ongeluk gebeur het. Foto: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'