PRINS ALBERT NUUS - ’n Oupa (56) het Dinsdag in die landdroshof op Prins Albert verskyn nadat hy glo sy kleindogter verkrag het.
Die tengergeboude man is Sondagmiddag in hegtenis geneem by die huis hier waar hy saam met sy uitgebreide familie woon nadat die meisie, wat nog op laerskool is, medies ondersoek is. Die polisie het op gerugte gereageer en haar, met die hulp van haar ouers, na ’n dokter geneem.
Dis nog onduidelik oor hoe ’n lang tydperk, of hoe gereeld, die vermeende seksuele aanranding en verkragting plaasgevind het. Dit blyk dat die kind en haar oupa ’n slaapkamer gedeel het.
Die man is nie gevra om te pleit nie, omdat die saak nog ondersoek word. Die saak is tot 26 Februarie uitgestel.
Hy het voor landdros Johan Steynberg van Oudtshoorn verskyn. Die staatsaanklaer is Marvin de Vos.
* Die wet bepaal dat die identiteit van minderjarige slagoffers nie bekend gemaak mag word nie en dus mag die identiteit van die oupa ook nie in die pers bekend gemaak word nie.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'