OUDTSHOORN NUUS - 'n Oupa (66) van Oudtshoorn is in die waakeenheid in die George-hospitaal na hy sy 12-jarige kleindogter Saterdagaand teen 'n vermeende verkragter, wat by hul woning ingebreek het, probeer beskerm het.
Die man was besig om die kind te wurg toe die oupa ingegryp het.
Die betrokkenes se name is aan Oudtshoorn Courant bekend, maar om die identiteit van die minderjarige slagoffer te beskerm kan hul name nie genoem word nie.
Sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê 'n 42-jarige man is Maandag vir poging tot moord en poging tot verkragting in hegtenis geneem.
Hy behoort die week in die hof te verskyn. Die verdagte se naam kan ook nie bekendgemaak word voordat hy gepleit het nie.
Gerugte het die afgelope naweek die rondte gedoen dat die verdagte op parool uit was vir 'n vorige verkragting toe hy die 12-jarige probeer verkrag het. Dit kon egter teen druktyd nie bevestig word nie.
Volgens Edith du Plessis, wat naby die oupa en sy kleindogter woon, woon die 12-jarige meisie saam met haar boetie (10), haar oom en haar ouma in die huis in Bridgton.
"Die meisie se ma is verlede jaar oorlede, daarom woon sy by haar ouma-hulle. Sy is nog geskok deur wat gebeur het. Sy het blou merke in haar nek soos sy gewurg is."
Oudtshoorn Courant het Dinsdag self met die slagoffer gepraat.
Volgens haar het sy op die bed in die sitkamer geslaap toe sy wakker geskrik het toe die man die huis binnekom.
"Die man het by die voordeur ingekom en langs my op die bed gesit. Ek het sy gesig herken. Mense in die straat het gesê hy het al ander meisies verkrag en ek het hard begin skree. Hy het my gewurg sodat ek moet stilbly. Ek het geweet hy wou my verkrag. My oom het ingehardloop en met hom begin baklei."
Die meisie se oom het gesê hy is tydens die stoeiery teen die muur vas gegooi en hy het 'n hoofbesering opgedoen. Dit blyk dat die verdagte met 'n hamer gewapen was.
"My pa het met hom gestoei en probeer om die hamer af te vat. Hy is drie keer met die skerp kant van die hamer agter die kop gekap. Een van die houe het 'n deel van sy kopvel losgetrek," het die meisie se oom Dinsdag vertel.
"Dit is so tragies dat hy nou hierdeur moet gaan, want hy herstel nog na 'n beroerte. Ons is net bly ons kon my susterskind red van die trauma van verkragting."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'