LADISMITH NUUS - 'n Ouerpaar van Ladismith, Caide (30) en Shaun Jansen (31) en hul 10-jarige seun, Nasheide, was Sondag in 'n tragiese ongeluk betrokke. Caide en Shaun is op die toneel dood.
Hul seun Nasheide was die enigste oorlewende.
Ao. Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie, het gesê die egpaar en hul seun het in die rigting van Zoar gery toe die bestuurder van die voertuig op die Seweweekspoort-pad beheer verloor het.
Die motor het die pad verlaat en omgeslaan.
Volgens Cederas is die seun na die Allan Blyth-hospitaal in Ladismith geneem waarna hy na George-hospitaal oorgeplaas is.
Towerkop Primêr, die skool waarin die egpaar se seun was, het die week 'n hartroerende boodskap vir die Jansen-egpaar op Facebook gedeel.
"Vader vandag kom dra ons as skool en skoolgemeenskap Nashaide, Alfreda Ayslie, Isak Ayslie en Bradwin Ayslie asook die breë Jansen en Ayslie families aan U op.
"Kom versterk en bied U vertroosting aan hulle. Vader hulle is stukkend, sal U asseblief hulle hartjies weer kom heelmaak. Kom raak Nashaide aan daar in George-hospitaal.
Caide Jansen
Caide en Shaun julle laat 'n groot leemte in julle seun en julle gesin se lewe.
Dankie vir die mens wat julle was. Mag julle siele in vrede rus," lui die boodskap.
Petrusia Rooi, 'n onderwyser, het gesê sy het Sondag 'n oproep gekry.
"Die kind was baie deurmekaar, maar kon darem vir hulle sê waar hy skool gaan. Die polisie het toe vir my gehelp en ek het toe dadelik gegaan om te help.
"Ek het ook vir Nasheide se ma skool gehou so die gesin lê my regtig na aan die hart," het sy gesê. Nasheide is al uit die hospitaal ontslaan.
"Hy het sy voet gebreek."
Shaun Jansen. Foto's Facebook
Die Oudtshoorn Courant het probeer om Caide se ouers in die hande te kry, maar kon nie daarin slaag nie.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'