Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Ouers van Bambino Voorsorg, 'n klein plaasskooltjie op Nelsrivier tussen De Rust en Dysselsdorp, het onlangs self ingespring en materiaal gekoop om die geboutjie waarin die skool tans is te probeer reg maak.
Volgens Mina Witbooi, die skoolhoof, het sy die skool 23 jaar gelede gestig om die kinders van die Nelsrivier-gebied 'n geleentheid tot opvoeding te gee. Die gebou is aan hulle geskenk en is reeds oor die 50 jaar oud.
Die skool het tans 47 leerders tussen die ouderdom van twee en ses jaar oud.
Sy handhaaf ook 'n nasorg vir leerders vanaf sewe tot 16 jaar oud.
"Ons moes so 'n week of wat gelede die ouers vra om leerders by die huis te hou omdat ons bang is dat die skool se een muur op die kinders kan val."
Volgens haar staan die gebou op 'n wal en is die fondasie weens erosie besig om mee te gee.
"Die mure het diep krake in en die plafon is ook nie meer stabiel nie. Om die kinders onbepaald by die huis te hou is ook nie 'n oplossing nie. Meeste van die skool se ouers is werkloos en kry net Sassa-toelaes, maar hulle het met die bietjie wat hulle wel kry, geld bymekaar gesit en die sement en ander materiale gekoop om die gebou te probeer herstel. Die ouers het ook self die werk gedoen."
Witbooi sê dat hierdie ongelukkig nie 'n langtermyn oplossing is.
Volgens haar is die skool wel by die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) geregistreer, maar kry hulle net 'n toelaag vir salarisse en die kosbank en omdat die gebou nie aan die WKOD behoort nie, kan hulle nie met die herstel van die gebou help nie.
Dit is deur die WKOD bevestig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’