OUDTSHOORN NUUS - Vonnisoplegging van 'n oudverpleegster van die Mediclinic Klein Karoo in Oudtshoorn, wat aan poging tot moord skuldig bevind is, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof tot 27 September uitgestel.
Christina Boshoff (62) het in 'n pleitverduideliking wat haar regshulp-prokureur, Brian Carelse, aan die hof voorgelees het, erken dat sy die aand van 25 Augustus 2021 'n 18-jarige vroulike pasiënt met 'n skerp voorwerp in die gesig en been gesteek het.
Volgens haar het sy aan depressie gely en die betrokke dag twee biere gedrink, en daarna niks verder kan onthou nie. Sy het eers in die polisiestasie weer wakker geskrik.
Sy het erken dat wat sy gedoen het, verkeerd is, en sy baie diep berou het daaroor.
Streeklanddros Daniel Boks het vonnisverrigtinge vir korrektiewe- en proefbeampteverslae uitgestel en die huilende Boshoff gewaarsku om weg te bly van die kliniek en nie kontak met die klaer te maak nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’