OUDTSHOORN NUUS - As deel van ‘n nasionale protesaksie om môre (Dinsdag 8 Augustus) se mosie van wantroue teen President Jacob Zuma te ondersteun, het opposisie politieke partye en individue in Oudtshoorn, kennis gegee van ‘n protesaksie ter ondersteuning van die wantroue mosie.
Protesaksies word nasionaal beplan om druk op die ANC te plaas om hul leier (Zuma) se omstrede presidentskap tot ‘n einde te bring.
Môre sal die mosie van wantroue vir die agtste keer voor die Nasionale Parlemênt dien. Zuma het reeds sewe mosies gewen.
Speaker Baleka Mbete sal vanmiddag om 15:30 bekendmaak of sy ‘n geheime stemming gaan toelaat.
In Oudtshoorn is ‘n protesaksie van 09:00 tot 11:00 Dinsdagoggend gereël, waar ‘n einde aan Zuma se leierskap geëis word. Dit sal langs die CP Nel Museum op die hoek van Braon van Reedestraat en Voortrekkerstraat plaasvind.
Jaco Londt, DA parlementslid en voorsitter van dié streek se DA, het vanoggend bevestig dat busse van regoor die streek gereël is om DA-ondersteuners na Kaapstad te neem, waar hulle aan die massa-optrede voor die Parlement gaan deelneem.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'