OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Oudtshoorn wat na ses biere by 'n nagklub in 'n stilstaande voertuig vasgery het, is Woensdag in die Oudtshoorn-landdroshof 'n boete van R4 000 of 24 maande gevangenisstraf opgelê.
Die 28-jarige man het skuldig gepleit. Sy bloedalkoholvlak was volgens die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, vier keer meer as die voorgeskrewe limiet.
Volgens hom het hy geswenk vir 'n slaggat en toe met die stilstaande voertuig gebots. Die skade aan die voertuig het R15 000 beloop. "Hy het besluit om die aand self huis toe te ry voordat hy nog dronker word," het sy regshulpprokureur, Jacques Malan, die hof meegedeel.
Die man het sy bestuurslisensie vir sy werk nodig en hy het gevra dat dit nie opgeskort word nie Van Rooyen het die hof vir 'n stywe boete en verdere opgeskorte vonnis gevra omdat dronkbestuur 'n ernstige misdryf is. Genadiglik het niemand seergekry of gesterf nie.
"Dronkbestuurders dink nie aan ander motoriste en voetgangers nie en om skuldig te pleit maak dit nie minder ernstig nie."
Landdros Roelf Konstabel het beklemtoon dat dronkbestuur 'n ernstige misdryf is en dat dit ander mense se lewens in gevaar stel.
"Dit wil ook voorkom asof pogings van die staat om dit hok te slaan nie die nodige impak het nie. Iemand wat 'n voertuig onder die invloed van alkohol bestuur, bestuur onverskillig en dit lei dikwels tot ernstige besering, sterftes en verminking van onskuldige mense."
Die landdros het R2 000 of 12 maande tronkstraf voorwaardelik vir 5 jaar opgeskort en die man is gewaarsku dat sy bestuurslisensie 'n volgende keer sonder twyfel opgeskort sal word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'