OUDTSHOORN NUUS - Agri Wes-Kaap se landelike veiligheidsbeleidskomitee vereer elke jaar tydens die Jaarkongres (vanjaar gehou op 27 Julie) lede van die SAPD vir hulle bydrae tot landelike veiligheid in die provinsie.
Vanjaar se toekenning vir die beste landelike veiligheidskoördineerder is aan Sersant Alan Adams, sektorbevelvoerder: landelike veiligheid van Uniondale oorhandig.
Kaptein Morné Heunis, SAPD klusterbevelvoerder, sê Sers Adams het die afgelope jaar verskeie dwelmarrestasies in die landelike gebiede gemaak deur middel van 252 operasies, wat duidelik daarop wys dat hy deur die jaar konstant besig was met sy polisieringsaksies in die landelike gebiede.
Hy dien die gemeenskap ook ywerig deur middel van misdaadbewusmakingsprojekte om ‘n beter en veiliger landelike omgewing te verseker, veral met die klem op ouer persone en misdade teen vroue en kinders.
Vanjaar se toekenning vir die beste lid van ‘n veediefstaleenheid is aan Sers TS Moletsane oorhandig vir sy uitsonderlike bydrae as lid van die SAPD Beaufort-Wes veediefstaleenheid. Hy het die BKB-wisseltrofee en sertifikaat ontvang.
Die BKB-wisseltrofee vir die beste veediefstaleenheid in die Wes-Kaap is aan die SAPD Oudtshoorn Veediefstaleenheid toegeken. Die beoordeling word jaarliks aan die hand van die SAPD se produksie-inligting vir die 2016/2017 boekjaar van al die veediefstal-eenhede in die provinsie gedoen.
Links is mnr Theunis Smit, voorsitter van die provinsiale veediefstalkomitee, in die middel is die waarnemende bevelvoerder van die SAPD-Oudtshoorn Veediefstal Eenheid, Fasie de Kock en regs is Hein Vollgraaf, bestuurder by BKB.
Beste lid – veediefstal – Van links is: Theunis Smit (voorsitter van die provinsiale veediefstalkomitee), sers. T.S. Moletsane en Hein Vollgraaf (bestuurder by BKB).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'