OUDTSHOORN NUUS - Lede van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor het nog twee suksesvolle bemarkingsgeleenthede bygewoon.
Corleen Barnard, toerismebestuurder, het saam met lede van die kantoor die World Travel Market Africa in Kaapstad bygewoon. Die streek is saam met Tuinroete- en Klein Karoo-toerisme bemark. Produkte van die Groter Oudtshoorn word aan nasionale en internasionale agente sowel as die media bemark.
Verlede week het hulle die Oudtshoorn-streek by die jaarlikse Tourism and Travel Indaba in Durban bemark.
Volgens Billy Engelbrecht, voorsitter van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekomitee, is dit die oudste en grootste toerismebemarkingsgeleentheid in Suid-Afrika.
"Dit maak dit dus ook die belangrikste een om by te woon. Ons dorp se produkte word aan internasionale reisagente bemark sodat hulle presies weet watter fantastiese toerisme-aantreklikhede in Oudtshoorn is wanneer hulle hul toergroepe na Suid-Afrika bring."
Barnard het vroeër vanjaar ook, saam met ander lede van die toerismekantoor, drie oorsese toere, die SA toerismeskou in Johannesburg en die Beeld Ekspo, ook in Johannesburg, bygewoon.
"Bemarking is geweldig belangrik vir ons streek. Dit is belangrik dat ons lede van die toerismebedryf, sowel as die media, inlig oor wat in Oudtshoorn gebeur. Dit is ook waarom ons elke skou moontlik bywoon."
Volgende op die lys is die South East Asia Roadshow in Julie en die Gauteng Getaway Show in September.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'