Aangeleenthede soos agendapunte wat keer op keer nie op die raadsagenda verskyn nie, die voorlegging van resolusies en aanbevelings, die versuim om opdragte uit te voer en regsverteenwoordiging vir munisipale werknemers en raadslede sal alles by die werks-winkel getakel word.
Die werkswinkel is onlangs belê na 'n finansiële komitee vergadering waar die nuwe munisipale bestuurder, Thandekile Mnyimba die dringendheid van so 'n finansiële werks-winkel ingesien het.
Vervelig was die vergadering beslis nie, met van die mense in die volgepakte publieke gallery wat gedreig het om DA-raadslid, Pierre Nel fisies by te dam na hy gesê het die "burgemeesterskomitee is niks anders as 'n sirkus nie".
Burgemeester Gordon April het geëis dat hy sy woorde terugtrek en gedreig om Nel aan te kla omdat Nel ook volgens April na sy komitee as 'n "Mickey Mouse komitee" verwys het. Nel het ontken dat hy die woorde gebruik het, maar nietemin ingestem om sy woorde terug te trek. Dit is moontlik dat Nel geintimideerd gevoel het, omdat individue hardop gedreig het om hom "buitekant te slaan".
Eden burgemeester en DA Oudtshoon-raadslid, Wessie van der Westhuizen het kapsie gemaak omdat daar "absoluut niks in die agenda oor dienslewering is nie". Hy het gesê infrastruktuur en behuisingskwessies staan stil. Die goedkeuring van die voormalige direkteur van gemeenskapsdienste, Walter Hendricks se skeidingspakket, asook die skeidingspakket van Anel Berry, voorheen altyd die assistent in die kantoor van die munisipale bestuurder, is in komitee hanteer en die publiek en joernaliste moes voor die bespreking die raadsaal verlaat.
Mnyimba en die Speaker John Stoffels het onderneem om raadslede se griewe ten opsigte van die agenda aan te spreek. Stoffels het egter ook die raadslede in die bek geruk oor hulle voortdurende onderonsies en geredekawel. Die kontroversiële godsdienskonferensie, die Mighty Word-saamtrek wat in Bridgton gehou is, was ook ter sprake en die sowat R60 000 wat die burgemeesters-komitee vir die konferensie bewillig het is met 13 teen 12 stemme deur die ANC koalisie deurgevoer.
Die burgemeester is ook gekap oor die gebrek aan terugvoer aan die gemeenskap. Na die inwoners van Oudtshoorn op 15 November aan die plaaslike regering gewys het dat hulle kan saam staan en onder die vaandel van die Oudtshoorn Burgerlike Beweging (OBB) na die munisipaliteit met 'n versoekskrif opgeruk het, was daar nog geen taal of tyding van die raad nie. Die leiers van die OBB het intussen besluit om die beweging te formaliseer en 'n stigtingsvergadering is vir 19 Februarie by die Aurial Kollege in Bridgton belê.
'n Inligtingsvergadering word ook op 16 Februarie gehou by die Suid-Kaap Kollege. David Piedt van die OBB het gesê dit is belangrik om die beweging te formaliseer aangesien die verteenwoordigers van die gemeenskap dan 'n mandaat het om namens die beweging se lede te praat. Hy het weer 'n beroep op almal in Oudtshoorn en omstreke gedoen om deel te raak van die beweging wat "nooit 'n politieke party sal word met leiers met politieke motiewe of ideale nie, maar altyd 'n gemeenskapsdrukgroep sal bly."
Die salarisse van die senior amptenare bly dieselfde en word nie verhoog nie. Die munisipale bestuurder word R945 000 per jaar betaal terwyl die direkteure elk R894 000 ontvang. Raadslede se salarisse styg egter met met 6%.

Die publieke galery in die raadsaal was Dinsdag stampvol - moontlik omdat almal die nuwe munisipale bestuurder Thandekile Mnyimba (heel voor regs op podium) by sy eerste raadsvergadering onder oë wou kry. Foto: Ilse Schoonraad