OUDTSHOORN NUUS – Oudtshoorn-munisipaliteit sal alles in sy vermoë doen om die onregverdige verhoging van 18,6% in sy tariewe teen te staan.
Die uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, sê hierdie verhoging sal die armes en behoeftiges verder verarm en sal onredelike druk plaas op inwoners wat reeds onder strawwe ekonomiese omstandighede sukkel.
Verder sal die verhoging verreikende negatiewe implikasies op die begroting van die munisipaliteit hê.
"Hierdie oorhaastige en irrasionele besluit deur 'n diensverskaffer wat tans nie eens 50% van sy dienslewering behaal nie, kan reeds ploeterende munisipaliteite ineen laat stort. Hoe kan Eskom die paar munisipaliteite wat hul rekeninge nougeset betaal, straf en dit ook onmoontlik maak vir diegene wat agterstallig is, om hul situasie reg te stel?"
Macpherson sê die regering en Eskom moet uitgedaag word om 'n lys te publiseer van munisipaliteite wat Eskom miljarde in uitstaande rekeninge skuld asook die stand van betalings deur buurlande wat krag van Eskom ontvang.
"Dit is tyd dat belastingbetalers en munisipaliteite wat hul rekeninge gereeld betaal sê, 'Genoeg is genoeg' en die regering dwing om verantwoordelikheid te aanvaar vir die korrupsie en staatskaping wat die land lamgelê het. Eskom is 'n skokkende voorbeeld van wat gebeur wanneer 'n regering toelaat dat eiebelang en selfverryking 'n prioriteit is. Hoe op aarde kan die regering bloot bystaan en tariefverhogings toelaat terwyl miljarde uitstaande is van munisipaliteite en buurlande?"
Die burgemeester het ook gesê dat Salga, wat die nasionale stem van 257 munisipaliteite is, reeds kommer oor die verhoging uitgespreek het.
"Baie munisipaliteite het ook hul teenkanting teen die tariefverhogings skriftelik aan Eskom en Nersa uitgespreek."
Beurtkrag het reeds ernstige ekonomiese implikasies vir die munisipaliteit tot gevolg gehad wat verskerp sal word deur die verhoging in tariewe:
Besighede het lewensbelangrike handelsure verloor wat die inkomste en salarisse van personeel beïnvloed. Dit het weer 'n negatiewe impak op munisipale dienste wat betaal word. Die munisipaliteit bestee tans honderde duisende rande aan brandstof vir kragopwekkers wat op verskeie punte gebruik word.
As gevolg van beurtkrag is watertoevoer na De Rust, Dysselsdorp en die landelike waterskema 'n groot uitdaging omdat pompe nie lank genoeg kan werk om die reservoir op kapasiteit te hou nie. Dit beteken dat watervragmotors groot afstande moet aflê om water aan hierdie gebiede te verskaf wat enorme koste vir diesel en dienste meebring.
Dit is duidelik dat die munisipaliteit nie kan wag dat Eskom weer op skedule kom nie en gedwing word om na alternatiewe maniere te kyk om elektrisiteit op te wek.
Dit sluit in:
- Koopkrag van onafhanklike verskaffers wat sonkrag gebruik.
- Die ontwikkeling van 'n 100MW sonkragaanleg.
- Besprekings oor die moontlikheid om hidrokrag by die Raubenheimerdam op te wek.
- Die installering van UPS-stelsels om verkeersligte te bedryf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'