OUDTSHOORN NUUS - Heinrich Agulhas (22), gebore Oudtshoorniet, pak volgende jaar sy tasse om Suid-Afrika by die IMTA (internasionale model- en talentkompetisie) in New York te verteenwoordig. Hy het onlangs aan die Art & Talent Showcase-modelkompetisie by die Silverton Casino in Krugersdorp deelgeneem waar hy met modelle vanoor die land skouers geskuur het.
Benewens sy passie vir modelwerk, is Agulhas ook 'n kranige rugbyspeler wat sedert 2018 vir Harlequins uitdraf. Agulhas sê dat hy van skooldae af 'n belangstelling vir modelwerk het.
"Ek het in 2013 Mr. Bridgton Sekondêr se junior-modeltitel sowel as die senior-titel ingepalm. Na skool het ek ook die plaaslike Mr. Fantasy-modeltitel ingepalm.
Ek is lief vir albei dissiplines, rugby en modelwerk, maar sedert die begin van lockdown het ek diep nabetragting gedoen en besluit dat ek vir nou eers al my tyd en energie aan my modelwerk gaan bestee."
Volgens Agulhas word sy professionele foto-portfolio eerskomende naweek geskiet wat hom in lyn gaan plaas om 'n studiebeurs ter waarde van 120 000 doller in die VSA los te slaan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'