OUDTSHOORN NUUS - Gedurende die tweede week van November 1967 haal die volgende nuus die Oudtshoorn Courant:
Die groot sakereus Prince Vintcent bestaan al 127 jaar, die ou kerkgeboue uit die 1880's moet gesloop word, dennebome voor die hoërskool moet af, die dorp kry 'n putt-putt baan, die HTS kry sy eie geboue en 'n pragtige sandsteengebou van Barclays Bank word gesloop.
18 November 1967
Die sandsteengebou gebou waarin Barclays Bank langs die moederkerk was, word afgebreek en die bank verskuif vir 18 maande na die perseel van Ben van der Vlies se supermark in Hoogstraat. Van die sandsteen word hergebruik in die ontwerp van die moderne bankgebou, wat vandag bekend staan as die FNB.
25 November 1967
Die Hoër Tegniese Skool wat die Lugskool se geboue gebruik, moet dringend skuif. Die Departement van Verdediging wil sy geboue verbeter en vergroot. Die nuwe skoolgeboue van die HTS sal teen April 1968 in Wesbank opgerig word.
Oudtshoorn se eie Putt-Putt baan word in Noordstraat naby die nuwe volstruisvertoonplaas geopen. Oudtshoorn het 'n plek van ontspanning nodig. Die baan sal in die week van soggens 8:00 tot middernag oop wees. Sondae sal die baan soggens en saans gedurende kerktye gesluit wees. Die burgemeester mnr. JJ Raubenheimer sal die baan open.
29 November 1967
Die sewe reusedennebome voor Hoërskool Oudtshoorn, wat verwyder gaan word, laat gemoedere hoog loop. Die Oudtshoorn Courant ontvang oproepe van inwoners wat pleit vir hulle behoud. Die bome, ook 'n landmerk, moet af, want die herbeplanning van die pad vereis dit.
29 November 1967
In 1967 word Prince Vintcent en Kie wat vandag nog op presies dieselfde plek in Baron van Reede staan, 127 jaar oud. In 1840 koop die Hollander Joseph Vintcent 'n bestaande saak in Mosselbaai. Prince was tot 1890 die ander vennoot. Mosselbaai se hawe was toe die hartklop van die Suid-Kaap se in- en uitvoer. Spoorweë was nog nie aangelê nie. Reeds in 1846 toon die onderneming enorme winste. Takke word in Oudtshoorn en George geopen. Die Kleinschmidts bestuur die Oudtshoorn-tak.
Prince Vintcent koop feitlik al die plaasprodukte van die streek op en vervoer dit per ossewa na Mosselbaai. Daar is aangeteken dat tot 26 ossewaens in lang rye hulle beurt afgewag het vir die op- en aflaai van goedere. Groenfontein se lemoene en die vrugteboorde van die toe waterryke Stolsvlakte en Waaikraal, het gehalte vars en droë vrugte kom aflewer. Ingevoerde goedere uit ander wêrelddele is in die hawe afgelaai en na die takke versprei.
Prince Vintcent het die streek se tabak namens die United Tabacco Co opgekoop. In 1914 in die verebloeityd was die groot onderneming sy tyd al ver vooruit met sy verskillende afdelings en vertoonvensters, maar in Augustus 1976 sluit die onderneming sy deure.
Vandag is die Prince Vintcent-gebou 'n voorbeeld van 'n historiese gebou wat met groot sorg deur sy eienaar Kobus Spies in stand gehou word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'