OUDTSHOORN NUUS - In die Oudtshoorn Courant se uitgawe van die eerste week in 1967 is daar nuus oor die moontlike sluiting van onderwyskolleges, groot aanhang van fietsry en gerugte van ryk steenkoolneerslae in Mosselbaai.
1 November 1967
'n Sondagkoerant berig dat Oudtshoorn se Onderwyskollege (OKO) en Graaff-Reinet s'n, weens 'n herbeplanning vanuit Staatsvlak, na onderskeidelik Wellington en PE verskuif kan word.
Die gemoedere loop baie hoog, vergaderings word links en regs belê en verduidelikings word geëis. So 'n stap sou die hele Suid-Kaap benadeel.
'n Week later is daar 'n beriggie wat die publiek gerusstel.
Die provinsiale sekretaris laat die rektor van OKO (Dr. M du Toit Potgieter) verstaan dat alles maar blote spekulasies is.
In Spitzkop Sallies, 'n Engelse rubriek geskryf deur Slypsteen, kla hy oor die plaaslike publiek se swak bywoning van besoekende klassieke musiekopvoerings en oor die oorname van kettingwinkels wat die kleinhandelaar wat geslagte lank sy kopers geken en gedien het, uitstoot.
'n Beroepsafrigter van die departement van sport en ontspanning, Neil Bowes, gaan op Vrydag 3 en Saterdag 4 November 'n swemafrigtingskursus in die NA Smit-swembad aanbied Die inskrywing kos R1.00 vervoer en verblyf word deur die departement geborg.
4 November
Meneer Robertson van Groot-Brakrivier skenk 'n historiese foto aan die C P Nel-museum.
Die foto is voor die Queen's Hotel geneem van 150 plaaslike burgers wat op 12 Februarie 1881 vertrek om in die Basoeto-oorlog te veg.
Die Pocock-broers, wat die Oudtshoorn Courant gestig het, het die foto geneem wat later in Engeland as 'n tekening in die koerant Illustrated London News verskyn.
8 November
Fietsry is 'n gewilde sport, daar word gereeld byeenkomste gehou en ander klubs uitgenooi om teen mee te ding.
Gerhard de Jager verbeter 'n OP junior-rekord met 28 m 2.8 sek.
Op 4 November se interklub-fietsrybyeenkoms met PE, het Oudtshoorn se span bestaan uit: Harold Tome; Gerhard de Jager; Jan Mostert en Izak Boshoff.
Die PE manne was Willie Marx Martin Nefdt Johan Strydom en die Webb-broers.
11 November
In Mosselbaai het mnr. G F Venter op sy perseel in Langstraat duidelike tekens van 'n steenkoolneerslag en tekens van gas ontdek.
Mnr. Venter het grondmonsters vir 'n laboratorium weggestuur wat bevind dat daar 'n aanwesigheid van 51% koolstof is. 'n Versteende woud lê vermoedelik onder die Bakke langs die Tuinroete.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'