Volgens Rob Hall, direkteur van ondernemingsbestuur by die Ranch was Cango Wildlife die tweede dieretuin in Afrika wat 100% voldoen aan PAAZAB se vereistes. Die ander drie wat die eer met Cango Wildlife deel is die Pretoriase dieretuin, Johannesburgse dieretuin en Ushaka Marine World in Durban.
Volgens Hall het die funksie en opset van dieretuine en akwariums oor die laaste aantal jare radikaal verander. "Dieretuine is nie meer plekke waar diere in hokke besigtig word nie, daar word nou geweldig klem gelê op opvoeding, bewaring, navorsing en die behoeftes van besoekers."
Tydens die afgelope konferensie van PAAZAB wat verlede week deur Cango Wildlife Ranch by die Pearl Hotel aangebied is het verskeie internasionaal bekende sprekers, waaronder die wêreldbekende dierekenner en - afrigter Steve Martin, ook hierdie boodskap oorgedra.
Martin het gesê; "Die nuwe styl in dieretuine is om diere toe te laat om te doen wat hulle wil en in lyn met hul natuur en, deur middel van positiewe bevestiging, hulle sover te kry om te doen wat ons wil hê hulle moet doen."
Hierdie benadering om diere so natuurlik as moontlik in dieretuine aan te hou, vorm deel van 'n onderneming wat sowat 30 lede van PAAZAB verlede week in Oudtshoorn onderteken het om aan minimum-standaarde te voldoen. Hall het die ondertekening van die onderneming beskryf as die hoogtepunt van die konferensie
"Uit die sowat 40 instansies wat volle lede van PAAZAB is, het 30 die onderneming geteken," het hy gesê. "Daarmee onderneem hulle om te voldoen aan minimum standaarde van ten minste 60% en daarvoor ge-oudit te word. Die doel met die oudit is om te verseker dat elke instansie waar diere aangehou word die beste praktyk sal toepas tot voordeel van die diere."
Standaarde is neergelê met betrekking tot bestuur, administrasie, sakebeleid, die versameling van diere en toesighouding. Hulle moet ook voldoen aan die etiek van aanhouding van diere, onderrig en opvoeding, wetenskaplike navorsing, en veiligheid van personeel en diere.
Elke instansie se standaarde sal gereeld ge-oudit word deur opgeleide werknemers van PAAZAB-lede.
Hall het ook gesê dat daar nog 'n reusetaak voorlê om hierdie dieretuine, wat huidiglik nie aan PAAZAB se kriteria voldoen nie te verbeter, maar het bygevoeg dat PAAZAB en sy internasionale vennote reeds by 'n hele paar van hierdie instansies betrokke is om hulle te help en finansieel te ondersteun.
Die Giza-dieretuin in Kairo is een van die wat reeds baat gevind het by PAAZAB se betrokkenheid. "Ons het baie by PAAZAB geleer oor hoe om ons dieretuin te bestuur en diere in aanhouding ten beste te versorg," het Mona Sadek gesê. "
Ter afsluiting het Hall gesê dat die konferensie 'n pluimpie is vir Oudtshoorn aangesien dit deur almal beskou word as die beste konferensie uit die 23 wat reeds sedert 1989 gehou is.

Volgens Rob Hall, direkteur van Cango Wildlife, speel dieretuine ‘n groot rol in die opvoeding ten opsigte van bewaring. Hier laat hy en personeellede ‘n skool nader kennis maak met jagluiperde. Foto: Hannes Visser.
ARTIKEL: HANNES VISSER EN TISHA STEYN