OUDTSHOORN NUUS - 'n Voormalige polisieman Nigel Olifant, is verlede week vrygespreek op aanklag van verkragting en seksuele aanranding van twee meisies. Landdros Daniël Boks het in sy uitspraak gesê die staat kon nie sy saak bo redelike twyfel bewys nie.
Olifant is daarvan aangekla dat hy in Januarie 2014 'n 15-jarige meisie verkrag en 'n 16-jarige seksueel aangerand het.
Hy het die voordeel van die twyfel gekry omdat die klaers nie die presiese datums van die voorvalle kon gee nie en Olifant, wat destyds op Pacaltsdorp gewoon het, 'n alibi gehad het vir die datum wat wel deur die klaers aangedui is.
Volgens die klaagster wat glo deur Olifant verkrag is, het die beweerde verkragting die laaste Vrydag in Januarie 2014 plaasgevind. Olifant, sy vrou en 'n vriend, het egter getuig dat hy die betrokke aand 'n verjaarsdagpartytjie vir sy seun by Fancourt gehou het. Foto's wat as bewysstukke ingehandig is het dit bevestig.
Streeklanddros Daniël Boks het met uitspraak gesê dat Olifant nie 'n eerlike en opregte getuie was nie terwyl sy vrou en vriend ook hul bes probeer het om hom te beskerm. Hulle het ook nie goeie indrukke op die hof gemaak nie. "Die hof glo nie dat hy glad nie in Januarie 2014 op Oudtshoorn was nie," het die landdros gesê. Hy het wel "êrens in Januarie" geslagsgemeenskap sonder toestemming met die 15-jarige gehad en moet onthou dat die kind geglo word, het die landdros gesê.
"Dit gaan egter nie daaroor nie en 'n alibi, hoe leuenagtig ook al, moet deur die staat weerlê word. Die onus berus op die staat om die beskuldigde se skuld te bewys en dit kon nie bo redelike twyfel gedoen word nie."
Olifant het met arms in die lug uit die beskuldigdebank gestap en is deur huilende familielede en vriende omhels.
Christo van der Bergh het vir Olifant verskyn en adv. Michelle Weyers vir die staat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'