Update
OUDTSHOORN NUUS - Die skietdood van 'n oudpolisieman, Shane van Briesies (44), het vele vrae in die gemeenskap gelaat.
Van Briesies, oorspronklik van Oudtshoorn, maar wat in Dysselsdorp gestasioneer was, is Saterdag 1 Julie in die Bridgton-polisiestasie, deur 'n beampte wat Saterdagaand aandiens was, doodgeskiet.
Volgens Robbie Raburaru, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoek-direktoraat (Opod), word beweer dat die oorledene by die polisiestasie opgedaag het om 'n klag te lê.
"Die beampte aan diens het gesê dat die oorledene onder die invloed van drank was en dat hy moes terugkom wanneer hy nugter is."
'n Bakleiery het na bewering tussen die oorledene en die beampte ontstaan.
"Die oorledene het na bewering die beampte op die kop en arm met 'n mes gesteek waarna die beampte die oorledene doodgeskiet het," het Raburaru gesê.
Raburaru het Maandag gesê dat die polisiebeampte aan diens steeds vir sy beserings in die hospitaal behandel word.
Van Briesies se ma vertel
Louise van Briesies, die oorledene se ma, het Dinsdag gesê dat haar seun se dood 'n groot leemte in die familie laat. Hy was die pa van drie dogters (21, 16 en 12) en een seun (2). Hy het ook ongeveer twee weke gelede 'n oupa geword. Die familie weet nie veel van die insident waarin Van Briesies doodgeskiet is nie.
Sy het vertel dat Van Briesies haar en haar man, Fred, se enigste seun was. Hy was die middelkind en het 'n ouer en jonger suster. Hy is op Ezeljacht in Heroldt gebore en het daar laerskool toe gegaan. Hy sou later sy skoolloopbaan by Hoërskool Pacaltsdorp voltooi waar hy, volgens Louise, 'n voorbeeldige kind was. Na skool het Van Briesies 'n jaar lank landbou op Saasveld in George studeer.
Volgens Louise, het hy kort hierna sekuriteitswerk begin doen en gevolglik by die polisiekollege op Philippi in die Kaap sy opleiding as polisieman voltooi. Hy het 'n ruk lank in Kensington gewerk en daarna vir ongeveer vyf jaar in Dysselsdorp. Hy het uiteindelik na 16 jaar diens in die polisiemag bedank.
"Shane was ook baie sportief en was lief vir rugby. Hy het op skool byna elke jaar die Cravenweekspan gehaal en hy het lank vir die Bridgton-rugbyklub gespeel. Maak nie saak waaraan hy deelgeneem het nie, of dit nou sport was of in kollege of by sy werk of wat ook al, hy het 'n leierskaprol ingeneem, hy het altyd uitgestaan in dit wat hy gedoen het," het sy vertel.
Van Briesies het na hy by die polisie weg is, sy ouers op 'n kleinhoewe wat hul aangekoop het buite Oudtshoorn, bygestaan.
Louise vertel dat Van Briesies baie goed met sy hande was.
"Hy het baie goed op skool met houtwerk gedoen, en selfs na sy aftrede was hy altyd die een wat rondom die huis alles reggemaak het. Mense wat hom geken het, kon altyd sien dat daar "iets" in hom sit. Hy het oral waar hy gegaan het 'n impak op mense gelaat, 'n impression waar hulle kon sien wie hy was. Hy was altyd eerlik en op die man af. Hy het spore in mense se lewens gelaat," het sy gesê.
Van Briesies was ook, volgens haar, iemand wat respek vir ander gehad het.
"Niemand is volmaak nie, maar Shane was altyd respekvol, en waar ook al hy was, was daar die klank van 'n skaterlag."
Van Briesies sal moontlik Saterdag begrawe word met 'n diens om 10:00 by sy huis, en om 11:00 by die Grace Kerk in Oudtshoorn.
Vorige artikel: Polisieman skiet man dood
Bridgton-polisiestasie. Foto: Stefan Goosen
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'