OUDTSHOORN NUUS - Om bymekaar te kom en net oor die goeie ou dae en skoolmanewales te gesels is lekker.
So sê Hazel Jonker, 'n oudleerder van Hoër Meisieskool, na sy saam met 'n groep van haar ou skoolmaats verlede Vrydag vir ontbyt by Avond Rust ontmoet het.
Volgens Jonker probeer hulle so 'n reünie op 'n gereelde basis hou.
"Ons was ongeveer 20 vroue wat bymekaargekom het. Almal oudleerders van die Meisieskool en meeste van hulle is steeds in Oudtshoorn woonagtig. Dit is lekker om weer vriendskapsbande op te tel en self te kan sien hoe dit met mekaar gaan. Ons is bevoorreg om so bymekaar te kan kom."
Jonker sê die Hoër Meisieskool was geleë waar die polisiestasie nou in Baron van Reedestraat is.
"Dit was 'n fantastiese skool. Waar die museum nou is was die seunskool. Die skool het daardie tyd leerders van Sub A tot matriek hanteer, maar die meisies kon vroeër uit die skool gaan om te gaan werk. Ons het veral met hokkie, netbal en musiek uitgeblink."
Volgens haar het die seun- en meisieskool in 1961 geamalgameer en het dit toe Hoërskool Oudtshoorn geword. Die klasse is egter nog in die ou seun- en meisieskool aangebied tot die huidige gebou waarin Hoërskool Oudtshoorn tans geleë is, klaar bebou was.
Oudleerders van Hoër Meisieskool tydens hul reünie verlede Vrydag. Foto: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'