OUDTSHOORN NUUS - Die bekroonde teaterskrywer en -regisseur Neil Coppen en kunstenaar Vaughn Sadie is tans besig om ’n teaterproduksie en gemeenskapsgeleide kunsprogram saam te stel, in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), wat daarop gemik is om die talente en stories van Oudtshoorn-inwoners en -kunstenaars ten toon te stel.
Oudisies word van 20 tot 22 Januarie in en om Oudtshoorn gehou.
Die doel van die produksie is om ’n unieke viering te wees, ’n poëtiese liefdesbrief aan die mense van die Klein-Karoo, ’n aand van storievertel en opvoerings wat die navorsing en stories, wat die projek oor sy verskeie samewerkende kreatiewe prosesse ingewin het, deel.
“Navorsing en prosesse vir die KKNK se Oudtshoorn Living Within History (OLWH)-program is verlede jaar inisieer as deel van Kunste Onbeperk se Klein Karoo Kunste-Akademie. Die projek behels dat inwoners van in en om Oudtshoorn oor die volgende paar maande aan ’n reeks visuele kuns- en storievertelprosesse saamwerk om opwindende uitkomste en geleenthede te skep,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk.
Theart gaan voort: “Neil en Vaughn het beide uitgebreide ervaring in die inisiëring van openbare kuns- en teaterprojekte wat verband hou met die skep van empatie, bewusmaking, dialoog en dieper luister deur opvoering en artistieke uitlewing. Die visie van hierdie projek is om deur die kunste ’n meer effektiewe, langtermyn verbintenis met die gemeenskap van Oudtshoorn te bou. Na die onstuimigheid van die pandemie glo ons dat ons deur die kunste ’n belangrike rol in die fasilitering van die nodige verandering en dialoog binne hierdie gemeenskap en streek kan en moet speel. Die sukses van projekte soos dié is afhanklik van die gemeenskap se deelname en ons nooi almal uit om betrokke te raak.”
Oudisies
Die kreatiewe span hou van 20 tot 22 Januarie oudisies.
Die oudisies sal elke dag van 10:00 tot 19:00 in die volgende venues plaasvind:
20 Januarie - St. Simons Kerk (Engelse kerk), Bridgton
21 Januarie - Thusong-sentrum, Bongolethu
22 Januarie - CP Nel-museum.
Alle aansoekers moet ’n oudisiegleuf bespreek deur Glenisha Tarentaal per e-pos te kontak by glenisha@kunste.org.za, bel of WhatsApp na 078 966 8656.
Die kunstenaars sien hierdie oudisies as ’n geleentheid om die talent in Oudtshoorn te ontmoet en te netwerk en is op soek na solokunstenaars (akteurs, sangers en musikante), of uitvoerende kunste-groepe (wat orkeste, kore en tradisionele dansers insluit) van 14 jaar en ouer.
Oudisiegleuwe van twee minute sal aan elke kunstenaar of groep wat oudisies doen toegestaan word en kunstenaars wat belangstel moet ’n kort stuk (monoloog, liedjie, of dans) voorberei om vir die paneel op te voer. Suksesvolle aansoekers sal gevra word om ’n finale oudisieronde by te woon, waaruit die gekose deelnemers in ’n musiekteaterproduksie te sien sal wees.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'