OUDTSHOORN NUUS - 'n Bekende in die onderwyskringe en oudburgemeester van die Kannaland-munisipaliteit, Sam Aubrey Duiker (68), is vanoggend na 'n lang siekbed oorlede.
Duiker, wat in Calitzdorp gewoon het, was 'n skoolhoof van Laerskool Excelsior in Calitzdorp en ook waarnemende kringbestuurder.
Hy is in 'n hospitaal in Oudtshoorn oorlede.
Duiker sal onthou word as ’n strateeg in plaaslike regeringskringe waar hy een van die eerste burgemeesters was.
Keith Meyer, onderhoof van Towerkop Primêr, onthou Duiker as iemand met ’n skerp onderwysbrein en 'n fantastiese sin vir humor.
Jacob Willemse van Calitzdorp sê Duiker was ’n eerlike persoon gewees.
"Ek het lank saam met hom op die skoolbeheerliggaam gedien. Hy was ’n onderwysleier by uitstek en ’n goeie spreker, maar meer nog het hy sy gemeenskap geken en gedien,” sê Willemse.
Duiker word deur sy vrou Hilda oorleef.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'