Update
OUDTSHOORN NUUS - Die bediening in die NG Sendingkerk gedurende die apartheidsjare was alles behalwe maanskyn en rose.
So sê ds. Jurie van Rooy, oud-predikant van die Oudtshoorn Verenigende Gereformeerde Kerk, voorheen die NG Sendingkerk Oudtshoorn.
Van Rooy het Saterdagaand 'n boek met die titel Voor ons Vergeet - sodat ons kinders ook kan weet, in die kerk bekend gestel, wat hy saam met nog twee ander oud-NG Sendingkerk leraars, dss. GD Cloete en Abe Boer, saamgestel het.
Die boek bevat die ervarings van 17 afgetrede predikante tydens hul bediening in die NG Sending- en Verenigende Gereformeerde Kerk.
Die raamwerk was die ou politieke bedeling wat rassediskriminasie toegelaat en as't ware goedgekeur het.
Die meeste van die gebeurtenisse het binne plattelandse gemeentes voorgekom, maar selfs binne die stadsgemeentes was daar soortgelyke optredes, veral met betrekking tot huishulpe.
Van Rooy het Saterdagaand se aanwesiges geboei met sy ervaringe.
"Die Sendingkerk het destyds as gevolg van sy uitsprake rondom die apartheidsbeleid fel in die kollig van die staat beland.
"Dit het meegebring dat die aktiwiteite van Sendingkerkleraars fyn dopgehou is.
"Die apartheidsera was 'n belaglike era. Ons is doodeenvoudig deur die meeste plaasboere verbied om by ons mense uit te kom."
Van Rooy het die hoop uitgespreek dat die dinge wat met hulle gebeur het nie weer sal plaasvind nie.
Volgens hom is dit 'n boek wat almal op Oudtshoorn behoort te lees.
"Die insidente waaroor in die boek geskryf word vertel die verhaal van opoffering, vrees en eensaamheid wat talle predikante en hul families in daardie stormagtige dae moes deurmaak ten einde aan hulle roeping getrou te bly. Ons het dit oorleef. God is getrou."
Ds. Van Rooy het op Carnarvon as proponent begin en was daarna predikant by Grens (Oos-Londen), op Middelburg (Kaap), Willowmore, Marydale en Oudtshoorn tot einde 1993 in die NG Sending Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk.
Hy was sedert Februarie 1994 verbonde aan die Toevlug-rehabilitsiesentrum in Worcester as direkteur van Christelike Afhanklikheidsbediening (CAB) en dien daarna nog vir bykans tien jaar as direkteur van die Toevlugsentrum.
Hy het in 2011 afgetree, maar bedien steeds op kontrakbasis die Christelike Afhanklikheidsbediening.
Die boek is teen R80 te koop by die kerkkantoor van die Bridgton VGK.
Lees 'n vorige artikel: Oud-predikante skryf boek oor Apartheid
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'