Gallery
OUDTSHOORN NUUS - 'n Voormalige Oudtshoorniet met 'n passie vir fotografie, Vernatt van der Westhuizen, se fotoreeks, Coloureds in Colour, maak die laaste ruk opslae op sosiale media.
Van der Westhuizen (28), wat in 2010 by Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer het en voormalige burgemeester, Wessie van der Westhuizen se seun, sê hy het op skool reeds met sy selfoon begin foto's neem, maar die gogga het amptelik in 2016 gebyt toe sy ouers 'n kamera vir die huis aangeskaf het.
"Rudy van Heerden was my eerste inspirasie. Hy doen ongelooflike werk en ek het hom altyd dop gehou as hy foto's by geleenthede neem. Ek het met troues en verjaarsdae begin en my eerste kunsfoto's was van ons kinders in die strate. Ons kinders is altyd in die moeilikheid as hulle so bedel op straat, maar ek wou die mooi van ons kinders vasvang om vir mense te wys dat hulle ook net kinders is wat kan lag en speel."
Van der Westhuizen sê hy het later uitgebrei en hy het die volwassenes in hul bekende omgewings afgeneem.
Fotogalery: Coloureds in Colour
"Ek het die eerste foto's van die reeks in Riebeeck-Wes geneem. Ek wil vir die wêreld die mooi van ons kultuur en ons mense wys met die foto's. Ek wil die oomblikke wat mense soms miskyk en as vanselfsprekend aanvaar vasvang sodat mense dit kan onthou. Al die foto's is nie perfek nie, maar dit juis die inperfections wat dit so perfect maak."
Van der Westhuizen sê hy gaan binnekort 'n webtuiste begin vir die foto's. Die foto's kan ook op sy sosiale media bladsye besigtig word.
Van der Westhuizen sê hy het later uitgebrei en hy het die volwassenes in hul bekende omgewings afgeneem.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'