OUDTSHOORN NUUS - Die organiseerders van vanjaar se KKNK het Woensdag gesê voorlopige inligting dui daarop dat die 25ste kunstefees goed afgeloop het en groei toon wat bywoning van produksies aanbetref.
Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees het verlede Donderdag begin en Woensdag ten einde geloop. Teen Woensdag was statistieke oor bywoning en kaartjieverkope nog nie gefinaliseer nie, maar dit blyk dat Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK se belofte van "The show must go on" bewaarheid is.
Theart het verlede week met hierdie woorde na beurtkrag verwys toe hy die versekering gegee het dat die KKNK voldoende gebeurlikheidsplanne in plek het om krag te voorsien in geval van beurtkrag. Hulle eerste groot toets was verlede Donderdagaand toe die eerste konsert op Die Huisgenoot-verhoog in die middel van beurtkrag moes plaasvind.
Die konsert het voortgegaan sonder enige onderbreking en die hele Kuierbuurt is van krag voorsien. By produksies het beurtkrag, wat oor die naweek plaasgevind het, ook weinig ontwrigting veroorsaak.
Volgens voorlopige syfers blyk dit dat kaartjieverkope hoër is as verlede jaar en van die konserte op Die Huisgenoot-verhoog is deur soveel as 8 000 mense bygewoon.
Alhoewel die kaartjieverkope hoër is, is kunsuitstallers wat reeds vir jare in venues in Baron van Reedestraat uitstal, nie daarvan seker is of hulle volgende jaar weer sal kom uitstal nie. "Die sigbare fees is baie kleiner as vorige jare, en met die verskuiwing van die feesterrein is die voete in die dorp daadwerklik minder," het een van die uitstallers wat reeds vir byna 20 jaar kuns uitstal, gesê. Hy het gesê dat hulle kostes om by die fees uit te stal eenvoudig net te hoog raak in vergelyking met verkope.
Rieldansers van Calitzdorp was van die plaaslike kunstenaars wat vanjaar hulle buiging op die verhoog gemaak het. Foto: Liezl van Niekerk
Die Uitkampteater was weereens 'n groot trekpleister en die gratis vertoning van #SPRINGTIME voor die burgersentrum was veral gewild. Behalwe vir die KKNK wat oor een week strek word daar ook daarna gestreef om 'n langtermyn verskil in die dorp en streek te weeg te bring.
Twee permanente nalatenskappe van die KKNK is die Maakitmooi-projek wat verlede jaar begin is en die stigting van 'n kunste-akademie. Met die Maakitmooi-projek is vanjaar vyf permanente kunswerke in die dorp opgerig om verlede jaar se vyf aan te vul.
Die Nederlandse produksie #SPRINGTIME was uiters gewild by die uitkampteater. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'